Aanhangers dagvaar Madonna oor laatkommery by konserte

Madonna. (Foto: Facebook)

Twee Madonna-aanhangers dagvaar die megastar vir skadevergoeding oor konserte in New York wat twee ure laat begin het en beskuldig haar in hofdokument van “onverskillige moedswilligheid”.

Michael Fellows en Jonathan Hadden dagvaar vir Madonna, die toermaatskappy LiveNation, asook die venue, die Barclays Centre, vir ʼn ongespesifiseerde bedrag oor die laat begin van haar Celebration Tour-konserte in Desember.

“Die konserte by die Barclays Centre is geadverteer as dat dit om 20:30 sou begin, maar Madonna was al drie aande eers ná 22:30 op die verhoog, met die meeste konsertgangers wat eers ná 01:00 by die Barclays Centre weg is,” lui die hofdokumente.

“Madonna het onverskillige moedswilligheid getoon om te verseker die konsert begin betyds en kan ten volle afgehandel word en dit het beteken dat kaartjiehouers ure lank moes wag vir die konserte om te begin.

“Ander was in die middel van die nag gestrand omdat hulle hul saamrygeleentheid huis toe, of openbare vervoer, gemis het.”

Die klagte is Woensdag in die federale hof in Brooklyn ingedien en lui dat “Madonna ʼn lang geskiedenis het van laat aankom en konserte laat begin, soms etlike ure laat”.

Nie die Barclays Centre, LiveNation of ʼn verteenwoordiger van Madonna het op ʼn versoek om kommentaar gereageer nie.

Madonna is in Junie verlede met ʼn bakteriële infeksie in die intensiewesorgeenheid van ʼn hospitaal opgeneem. Dit het beteken sy moes haar byna uitverkoopte reeks konserte uitstel – met die New York-konsert waaroor die hofsaak handel, wat uiteindelik eers in Desember gehou is.

Die Grammy-wenner agter treffers soos “Like A Virgin” en “Material Girl” het ʼn onmiskenbare invloed op musiek wêreldwyd gehad.

In 2020 het die 65-jarige superster ook ʼn heupvervanging ondergaan nadat sy ʼn besering op haar Madame X-toer opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yolande ·

Ek het n konsert in Abi Dabi gaan kyk van haar en daar was sy ook 2h20 laat gewees. Lyk my sy doen dit altyd om laat op te tree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.