Bruin kandidate glo nie by Jhb-metro oorweeg

(Argieffoto: JMPD/X)

ActionSA soek antwoorde by dr. Mgcini Tshwaku, burgemeesterskomiteelid van die Johannesburgse metroraad, ná bewerings dat bruin kandidate nie oorweeg is vir permanente aanstelling ingevolge die uitgebreide openbare werke-program (EPWP) vir verkeersbeamptes nie.

“As ʼn party wat nie-rassigheid voorstaan, is ActionSA diep bekommerd oor ʼn video wat op sosiale media versprei word waar ʼn EPWP-verkeersbeampte beweer die waarnemende hoof van die [metro‑] polisie het aan haar gesê dat sy weens haar velkleur nie vir ʼn permanente aanstelling oorweeg sal word nie,” sê Herman Mashaba, president van ActionSA.

In ʼn stemopname wat deel van die video vorm, kan ʼn stem gehoor word –  dié van waarnemende metropolisiehoof Angie Mokasi – wat aan iemand sê dat die persoon nie aangestel gaan word nie “omdat jy bruin is”.

Die jong beampte in die video sê sy was deel van ʼn groep van 74 kandidate, van wie 60 swart en 14 bruin is, wat die program voltooi het. Hulle het almal vir permanente poste aansoek gedoen nadat hulle die opleiding suksesvol voltooi het. Al 60 swart kandidate is volgens die kandidaat in die video aangestel, terwyl die 14 bruin kandidate glo weggelaat is.

Mokasi het aan TimesLive gesê die opname is deel van ʼn langer gesprek waarin sy meer konteks oor die besluit gegee het. Volgens haar word indiensnemingsteikens deur die metro bepaal en dat dit nie net vir ras geld nie, maar ook geslag. Sy het te midde van protes daarteen volgehou die beleid is “billike diskriminasie” en “toelaatbaar”.

Sy het luidens die berig ook gesê daar is poste waar voorkeur aan wit mense, Indiërs en bruin mense gegee word, maar omdat nie genoeg mense uit dié aangewese groepe aansoek gedoen het nie, die departement aansoek gedoen het vir ʼn afwyking van die proses om ander kandidate aan te stel. In hierdie geval het die afwyking glo nie gegeld nie omdat duisende kandidate aansoek gedoen het en dit vir ʼn groot genoeg keuringspoel gesorg het.

Mashaba sê die optrede is in direkte teenstelling met die waardes van die Grondwet wat nie-rassigheid bevorder in ʼn land waar almal gelyke toegang tot geleenthede het.

“ActionSA is ten sterkste gekant teen enige poging wat probeer om nie-rassigheid in Suid-Afrika af te water,” sê hy.

Die party het ʼn beroep op Tshwaku gedoen om dringend terugvoer oor die bewerings te gee en sê hy sal voortgaan om hom te beywer dat die moontlike ongerymdheid omgekeer word en almal ʼn gelyke kans het om vir werksgeleenthede oorweeg te word.

“Ons glo alle Suid-Afrikaners, ongeag hul velkleur, moet billike toegang tot werksaanbiedinge hê – in die private sektor en in die staat. Niemand mag ooit op grond van hul velkleur uitgesluit word nie,” sê Mashaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.