Buurman skuldig aan Moedersdag-moord

Jan Rheeders (Foto: Verskaf)

Annatjie Kruger van Orkney in Noordwes se kinders, kleinkinders én agterkleinkinders het nooit gedink dié dag gaan aanbreek nie.

Die moordsaak teen Kruger se buurman is immers in ʼn stadium teruggetrek. Toe werk Riekie Krause, ʼn staatsaanklaer, weer deur die dossier en die saak word in Februarie opnuut op die hofrol geplaas.

Jan Rheeders is Vrydagoggend in die hooggeregshof in Klerksdorp eindelik skuldig bevind aan die grumoord op sy bejaarde buurvrou.

Die liggaam van die 89-jarige Annatjie Kruger, geklee in haar kerkklere, is op 8 Mei 2016 op die vloer van haar slaapkamer aangetref. Haar dogter en kleindogter het onraad vermoed toe hulle haar nie in die hande kon kry om haar ʼn gelukkige Moedersdag toe te wens nie. Gemeentelede het ook die betrokke dag navraag gedoen aangesien Kruger nie soos dit haar gewoonte was dié Sondag in die kerk was nie.

Annatjie Kruger saam met haar agterkleinseun. (Foto: Verskaf)

Kruger se liggaam is omstreeks 17:00 daardie dag in haar woonstel aangetref nadat die polisie ontbied is om haar woonstel se deur oop te breek. Sy het ʼn snywond aan haar keel gehad.

Rheeders het in die dae ná die moord selfs sy buurvrou se begrafnis bygewoon voordat hy in hegtenis geneem is. Die saak sou egter sewe jaar sloer voordat uitspraak nou gelewer is.

“Ons is dankbaar dat daar nou uiteindelik berusting kan kom,” vertel Amor Adlem, Kruger se kleindogter, aan Maroela Media.

“Ons as familie kan nou afskeid neem. Ons het nie meer hierdie wolk wat oor ons hang nie.”

Annatjie Kruger saam met haar kleinkinders. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het destyds berig Rheeders het Kruger goed geken en naby haar in ʼn klein kompleks in Orkney gewoon. Sy vervreemde vrou was saam met Kruger in die kerk. Hy het gereeld by haar geld geleen en briewe geskryf waarin hy geld gebedel het.

Adlem sê die wyse waarop Rheeders haar ouma se lewe geneem het, is “afgryslik”.

“Hy het haar letterlik keelaf gesny en haar net daar gelos by haar hondjie. Haar hondjie het alles sien gebeur. Dit is die aakligste ding wat jy aan iemand kan doen wat dit nié verdien het nie.”

Vonnisoplegging is na verwagting op 14 Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Wil kommentaar lewe oor ons regs stelsel, maar wat is daar oor om oor kommentaar te lewer? ANC LEGACY van wetteloosheid.

Pannies ·

Baie bly die skuldige is vasgetrek.
Kan nie verstaan hoekom dit so lank geneem het nie.

Karoo ·

Die verlies aan die geliefde Ma en Ouma, die manier waarop hy haar lewe geneem het, die jare van finansieele misbruik en vals vriendskap, die 7 jaar van wag en hoop dat hy tronk toe gaan. Mag daar vrede vir julle wees vir Familie en Vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.