Die SAUK het Donderdag sy jaarverslag vir die 2016/2017 finansiële jaar bekend gemaak en bevestig dat die openbare uitsaaier ʼn netto verlies ná belasting van R977 miljoen gely het.
Die organisasie het gesê hy het finansiële beperkings beleef weens ʼn inkomstestroom wat verminder het teen ʼn koers van 6% hoër as die kostevermindering. Kontant en kontantekwivalente teen die einde van die 2016/17 finansiële jaar was R82 miljoen, in vergelyking met die vorige jaar se R881 miljoen. Die uitsaaier het gesê sy beduidende afname in kontantreserwes het gelei daartoe dat die SAUK nie sy skulde betyds kon betaal nie.
Inkomste vir die betrokke periode was R7,6 miljard, in vergelyking met R8,1 miljard in 2016, ʼn 6% afname jaar-op-jaar.
Die SAUK se primêre inkomstebron is advertensies wat met 5% gedaal het tot R5,6 miljard, en borgskapinkomste het ook met 18% gedaal tot R384 miljoen. Inkomste uit TV-lisensies het met 7% gedaal tot R915 miljoen.
Die uitsaaier het ʼn negatiewe ouditmening vir die betrokke periode ontvang. Onreëlmatige uitgawes is een van die faktore wat tot die negatiewe mening gelei het.
“Ons is natuurlik teleurgesteld met die finansiële prestasie vir die 2016/17 finansiële jaar,” het Nomsa Philiso, waarnemende uitvoerende groepshoof, gesê. “Ons word egter bemoedig deur die vordering wat gemaak is in die eerste kwartaal van die huidige finansiële jaar.”
Die openbare uitsaaier het tydens die betrokke finansiële jaar weggestap met verskeie pryse. Die SAUK het altesaam 31 radio-toekennings ontvang en SABC TV het ook met verskeie toekennings weggestap.
Die volledige jaarverslag is hier beskikbaar.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Talle jong mense gebruik nie meer die SABC se dienste nie. Sosiale media soos Maroela en twitter verskaf al die nodige inligting.
Flieks en sport word ook sommer gestream. Iemand sê vir my jy kan selfs Springbok rugby wedstryde lewendig op jou rekenaar stream. Of selfs op jou Tv as dit internet kan ontvang.
Dit sal interessant wees as iemand stap vir stap hierdie proses kan verduidelik
Ek betaal my tv lisensie getrou al kyk ek al meer as 10 jaar na GEEN kanale van die SABC nie.Na regte hoord ‘n groot gedeelte van die R915miljoen aan DSTV /Multichoice oor betaal te word.
Dan die duisende informele nedersettings in die land waar geen tv lisensies betaal word nie en ook geen inspeksies gedoen word nie kan die inkomste uit lisensiegeld verdriedubbel word.
Baie mense gebruik nie meer SABC se dienste nie.
Sport kan gestream word
SAUK moet maar vir Mnr Cloudy ‘n rekening stuur vir die verlies. Hy pronk mos oor al sy goeie dade by die SAUK.
Wel, hulle maak nog R915M uit lisensies so sal dit nie gou skrap nie. Persoonlik dink ek die konsep van n tv lisensie is lankal uitgedien. Ek kan mos nie help ek kan hulle kanale opvang nie? Hoekom my dwing om te betaal?