Centlec-personeellid vermoor

David Khanda (Foto: David Khanda, Facebook)

Die speurtak in Bloemspruit, Vrystaat, ondersoek die moord van ’n 50-jarige man, wat ’n personeellid van die Centlec se ingrypingspan in die Mangaung-metropolitaanse munisipaliteit, was. Centlec is die kragverspreider van die Mangaung-metro.

Die slagoffer is as David Khanda geïdentifiseer.

Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het die personeellid Saterdag omstreeks 21:30 by sy huis in Cuban-straat in Pine Haven, Bloemspruit, aangekom.

“Die gesin het geweerskote gehoor en is uit om te gaan kyk wat aangaan,” sê Covane.

“Die lede van die gesin het die personeellid, wat die hoof van die gesin was, op die grond aangetref.”

Die polisie en paramedici is na die toneel ontbied, waar hulle die slagoffer met verskeie skietwonde aangetref het. Hy is op die toneel dood verklaar.

’n Saak van moord is by die Bloemspruit-polisiestasie aanhangig gemaak. Die verdagte(s) is nog op vrye voet.

“Enigiemand met  meer inligting wat tot die verdagte(s) se inhegtenisneming kan lei, kan konst. Sechaba Tsholo by 082 854 7532 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

Lele Mamatu, woordvoerder van Centlec, sê hulle is geskok oor Khanda se dood. Hy beskryf Khanda as ‘n hardwerkende en toegewyde werker.

“Ons hoop die skuldiges word gou vasgetrek,” sê Mamatu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Ek wonder wat sê Hoedman van hierdie sinnelose moord? Mag David se gesin vertroosting vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.