Covid-19: Gesondheidswerkers berei voor vir moeilike winter

Argieffoto (Foto: Vincent Thian/AP)

Gesondheidswerkers in Suid-Afrika berei hulle voor vir ’n moeilike en besige winter wat die nuwe koronavirus betref.

Só vertel dr. Dewald Steyn, ’n kenner in aansteeklike siektes aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Hy voorspel, nes ander kenners, dat die aantal gevalle Covid-19 in Suid-Afrika gaan toeneem wanneer die algehele landwye afsondering volgende maand geleidelik opgehef word.

“Die moraal onder gesondheidswerkers is in hierdie vroeë stadium nog goed, maar die vrees vir wat kan kom, is ’n werklikheid,” verduidelik Steyn, senior lektor en spesialis in aansteeklike siektes in die departement interne geneeskunde aan die UV. Hy werk tans met Covid-19-pasiënte by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein.

Foto: (Chinatopix Via AP)

Steyn waarsku dat Suid-Afrikaners nie hulself moet blind staar teen die huidige getalle nie aangesien dit beslis nog gaan styg. Altesaam 4 793 gevalle Covid-19 is tot op hede in Suid-Afrika aangemeld. Die land se dodetal staan op 90, nadat nog drie sterfgevalle Maandag aangemeld is.

Dr. Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het aan Maroela Media gesê dié vereniging verwag ook ’n toename in gevalle wanneer die regulasies stelselmatig verslap word.

“Ons verwag dat dit gaan toeneem, maar ons gesondheidstelsel is redelik voorbereid as gevolg van die tyd wat die algehele landwye afsondering ons gebied het om voor te berei. Ons kon die laaste vyf weke voorberei. Ons kon die openbare en private sektors daarop voorberei om saam te werk. Dit is nie dat ’n toename in gevalle ons onkant gaan betrap nie,” verduidelik Coetzee.

(Foto: Itumeleng English/ANA)

“Baie van die land se Covid-19-pasiënte toon matige simptome en die meeste van hulle herstel sonder om enige hulp in te roep. As ons dit net so kan hou en die gevalle stadig kan toeneem, behoort ons die virus onder beheer te hou. Die tyd sal leer,” verduidelik Coetzee.

Maroela Media het vroeër berig die geleidelike heropening van die ekonomie gaan vanaf Vrydag 1 Mei op groter skaal hervat word.

Die heropening van die ekonomie is gegrond op vyf vlakke. Suid-Afrika is tans op vlak 5, die hoogste vlak wat kan geld, maar skakel Vrydag oor na vlak 4, wanneer sekere verslappings van die regulasies in werking sal tree. Dié vlak behels dat meer Suid-Afrikaners kan terugkeer werk toe, wintersklere mag aanskaf en kos vanaf restaurante mag bestel om afgelewer te word.

Steyn herinner Suid-Afrikaners daaraan dat die virus nog ’n geruime tyd met ons gaan wees. Daarom is dit van groot belang dat maatreëls soos die was van hande, die handhaaf van sosiale afstand en die ontsmet van oppervlakke nie in Mei saam met ander regulasies mag verslap word nie, meen hy.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.