Covid-19 kan dae lank op oppervlakke oorleef

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

’n Studie toon dat die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 dae lank op sommige oppervlakke kan oorleef.

Navorsing wat Dinsdag in die New England Journal of Medicine (NEJM) gepubliseer is, toon dat Covid-19 vir twee tot drie dae lank op plastiek en staal kan oorleef. Die virus oorleef sowat 24 uur op karton en vier uur lank op koper.

Maroela Media het by ’n prominente skoonmaakdiens gaan aanklop vir raad oor hoe om die kieme te ontsmet.

Iaan van Niekerk, uitvoerende hoof van Skitterblink-skoonmaakdienste, verduidelik aan Maroela Media dat oppervlakke nie bloot met seep en warm water afgevee kan word om Covid-19 af te weer nie, maar eerder met ’n behoorlike ontsmettingsmiddel.

Skitterblink was verantwoordelik vir die ontsmetting van die vliegtuig wat die groep Suid-Afrikaners die afgelope naweek vanuit Wuhan in China na Suid-Afrika teruggebring het.

Van Niekerk sê sy personeel het Sondag amper agt ure lank aan die vliegtuig ontsmet wat die 114 Suid-Afrikaners vanuit Wuhan na Suid-Afrika gebring het.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Volgens Van Niekerk is ’n ontsmettingskamer langs die vliegtuig opgerig. Een persoon het dié kamer beman soos skoonmakers tussen die kamer en die vliegtuig met skoonmaakmiddels beweeg het. “Ons moes alles verwyder en skoonmaak.”

Volgens Van Niekerk maak Skitterblink gebruik van dieselfde ontsmettingsmiddels wat op misdaadtonele gebruik word om Covid-19 van oppervlakke te verwyder. Die skoonmaakproses behels ’n baie sterk ontsmettingsmiddel wat met fyn sproei deur middel van ’n masjien op oppervlakke gespuit word. Die ontsmettingsmiddel maak die virus binne 30 sekondes dood, verduidelik Van Niekerk.

Ontsmettingmiddels van dié aard is egter nie tot enigiemand se beskikking om jou huis of werkplek te ontsmet nie. Van Niekerk stel Maroela Media egter gerus dat ’n huis of werkplek wel met ander ontsmettingsmiddels ontsmet kan word.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Hy bevestig dat die virus voorkom op oppervlakke waaraan daar uiteraard gereeld gevat word. “Die virus versprei van oppervlak na oppervlak. Dit kan nie deur die lug in jou huis inkom nie, maar wel deur iets wat jy die huis inbring,” verduidelik Van Niekerk. Dit beteken dat die virus aan jou inkopiesakke of selfs aan jou skoensole kan kleef en só jou huis kan binnekom, sou jy elders op die virus getrap het. Indien jy jou hande ontsmet voor jy die huis ingaan, is dit dus nie nodig om al jou toebehore konstant te ontsmet nie, sê hy.

Volgens Van Niekerk is ’n kombuis en badkamer sekerlik die grootste probleemgebiede in ’n huis. Die virus kan veral maklik op jou elektriese toestelle, soos ’n ketel beland, aangesien jy gereeld daaraan vat.

Dit geld ook vir die werkplek. “Die koffiemasjien by die werk is moontlik die een oppervlak waarvoor mense versigtig moet wees en nie noodwendig jou rekenaar se sleutelbord nie,” sê Van Niekerk. “Jy behoort veilig te wees as jy gereeld jou hande ontsmet en net by jou werkstasie werk. Jy loop egter ’n groter risiko wanneer jy aan die koffiemasjien by die werk vat waaraan almal raak.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan ·

Absolute snert geen virus kan langer as n paar minute alleen oorleef nie want n virus kan slegs leef as hy deel van n host is

Vriendelike Frikkie ·

Jan, bly so glo. Jy is in vir ‘n baie slegte verrassing binnekort. Hoop jou immuniteit is goed.

Dries ·

Jan bly so glo. Jy is in vir ‘n baie slegte verrassing binnekort. Hoop jou immuniteit is goed.

Cherokee ·

En ek Jan, wens so jy is reg. Maar volgens Dries (Bramaputa), is Iaan van Niekerk nie die die een wat snert praat nie.

Cherokee ·

Gert, as die produk advertensiewaardig is, laat dit wees. Ek vind dit egter ‘n probleem dat Standard Bank probeer geld maak uit covid-19 deur dit te gebruik n ‘n advertensieveldtog.

Gert ·

Pasop vir google. Enige persoon kan enige iets daar adverteer en as mens in “panic mode” is glo jy alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.