Covid-19: Talle by myn in Limpopo toets positief

Implats se Marula-myn in Limpopo. (Foto: Impala Platinum)

Die mynmaatskappy Implats sê 19 werkers by sy Marula-myn in Limpopo het positief vir Covid-19 getoets. Al die werkers was asimptomaties en ten spyte van die maatskappy se omvattende siftings-, toets- en opsporingsprotokol is daar steeds trosbesmetting.

Covid-19 is by 14 van die werkers gediagnoseer danksy Implats se pro-aktiewe toetsing – nie net sifting nie – van werkers wat terugkeer na die myne. Nie een van hulle het reeds begin werk nie, het Implats die naweek in ʼn verklaring gesê.

Die ander vyf werkers het in aanraking met die Covid-19-positiewe werkers gekom. Hulle is gesondheidswerkers by die myn se kliniek. “Die fasiliteit is dadelik gesluit om ontsmet te word en sodat alle mediese personeel en primêre kontakte getoets kan word,” lui die verklaring.

Volgens Implats woon 17 van die werkers in die omgewing, wat kan aandui dat die voorkoms van Covid-19 onder plaaslike gemeenskappe veel hoër is as wat die maatskappy aanvanklik gedink het.

Die geraakte werkers is dadelik in afsondering geplaas.

Werkers werk in dié stadium skofte van een week aan en een week af. Implats sê hy gaan nie vandeesweek die bykomende werkers terugroep nie, sodat alle gesondheid- en veiligheidsmaatreëls eers getref kan word. Dit sluit in die bevestiging van toetsuitslae, die ontsmetting van hoërisikogebiede, die uitvoer van verdere toetse en opspoor van kontakte, asook die isolering van diegene wat verder positief vir die virussiekte toets.

Implats sê dit is uiters belangrik dat hy diegene identifiseer wat moontlik die bron van die infeksies kon wees, of wat in aanraking met hulle was. Die maatskappy sê hy werk nou saam met die gesondheidsowerhede en voldoen aan alle regulasies rakende Covid-19.

“Implats steun die regering se beslissende optrede om die uitwerking van Covid-19 op mense se gesondheid, die arbeidsmark en die ekonomie te verminder,” het Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, gesê.

Hy het die werkers ʼn spoedige herstel toegewens.

Muller het gesê die maatskappy is deeglik voorbereid om enige Covid-19-gevalle te hanteer en gaan al die nodige hulpbronne beskikbaar stel om die lewe en inkomste van sy werkers en die van gemeenskappe waarin hulle sake doen, te beskerm.

Die voorsitters van die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne en energie, Sahlulele Luzipo, en die verkose komitee oor grondhervorming, omgewing, minerale hulpbronne en energie, Tebogo Modise, het die werkers ook spoedige beterskap toegewens en die myn geloof vir sy hantering van die situasie.

“Mnr. Luzipo en me. Modise is bemoedig deur [die minister van minerale hulpbronne, Gwede] Mantashe, wat gesê het sy departement sal nie skroom om die myn te sluit as hy toegelaat het dat werkers ondergronds gaan sonder dat hulle eers getoets is nie,” het die komitees in ʼn verklaring gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Nieteenstaande die toetse is daar steeds trosbesmetting ? Is hulle deure toe ?

Alleen Wolf ·

Nee hulle is nie toegemaak nie want dan kan dit probleme skep vir Cyriltjie se myn in die toekoms

capie ·

Is dit nou die 19 wat die Limpopo syfer met 2 opgestoot het. 14 uit die omgewing en hoeveel ander besmettes loop rond en besmet nog meer. Limpopo se toetsers werk darem hard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.