Covid-19: Talle soldate in Limpopo toets positief

‘n Weermaglid op patrollie tydens die landwye staat van algehele afsondering. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die weermag het bevestig dat nagenoeg 40 van sy lede pas positief vir Covid-19 getoets het en sê soos ander werkers wat die virus op die voorste linies beveg, word soldate meer as die gemiddelde burger aan die virus blootgestel.

Die geraakte bataljon is in Limpopo vanuit Kaapstad ontplooi en moes aanvanklik 14 dae lank by hul tuisbasis in die Wes-Kaap in kwarantyn wees voordat hulle na Lephalale is om as versterking te dien vir nog een van die weermag se bataljons wat diens op die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe doen, het Jaco Theunissen, ʼn woordvoerder van die weermag, gesê.

Die bataljon het op 13 Junie in Lephalale aangekom waar hulle ingevolge weermagbepalings aanvanklik tot ʼn weermagkamp beperk is.

Theunissen het gesê nadat siftingstoetse gedoen is, het dit duidelik geword dat ʼn hele aantal lede ook getoets sal moet word. Sommige lede se toetse het positief teruggekom en daar is besluit om die hele groep vir die virussiekte te toets.

“Diegene wat positief getoets het, is in isolasie gehou in ʼn fasiliteit op die basis wat spesifiek vir dié doel op die been gebring en voorberei is.”

Volgens die weermag help sy lede talle ander departemente op verskillende maniere in die stryd teen Covid-19. Hulle word landwyd ontplooi.

Die weermag het ook ʼn beroep op mense gedoen om nie te diskrimineer teen diegene wat positief vir Covid-19 toets nie.

Luidens die jongste syfers het 1 286 mense in Limpopo positief vir die virus getoets en 10 sterftes is tot dusver in die provinsie bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marina ·

Limpopo se syfers gaan nou die hoogte inskiet met die wat die myne, kragstasies, ens weer in bedryf kom, en dit van mense van ander provinsies.

Pietertjie ·

Verbeel ek my, of is daai wapen op die foto so in sy dinges in geroes? Ek wonder hoe lyk die loop binne-in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.