DA se beleidshoof bedank

Gwen Ngwenya het as hoof van beleid by die DA bedank. (Foto: Twitter)

ʼn Enkele week voor die DA se nasionale kongres sit die party sonder ʼn hoof van beleid nadat Gwen Ngwenya haar bedanking ingedien het.

Ngwenya het ʼn pos aanvaar as AirBnB se hoof van beleid en regsake in die Midde-Ooste en Afrika. Sy begin Maandag al in dié rol.

“Dit is ʼn groot en fantastiese taak om te hê en dít by ʼn maatskappy wie se missie ek baie opgewonde is om te help dryf,” het Ngwenya die afgelope naweek gesê.

“Dankie aan die DA vir die geleentheid om die beleidsagenda op so ʼn belangrike tydstip vir Suid-Afrika te help vorm.”

Ngwenya het ook diegene bedank wat saam met haar gewerk het, sowel as kollegas in ander politieke kampe met wie sy oor die jare noue bande gevorm het.

Sy is in 2017 as DA-LP beëdig, maar het in 2019 uit die pos bedank ná verskille tussen haar en die voormalige DA-leier Mmusi Maimane. Ná Maimane se bedanking het sy weer ʼn pos by die DA opgeneem, maar dié keer as gewone personeellid.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Ngwenya ook vir haar talle bydraes en diepe insig oor beleid bedank.

“Ons wens jou alles van die beste toe in ʼn uitsonderlike nuwe internasionale geleentheid en sal ons besprekings in die toekoms voortsit,” sê he Zille gesê.

Zille het Mat Cuthbert, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, intussen gevra om tydelik die beleidleisels oor te neem.

Cuthbert het by navraag gesê Ngwenya het hom ten volle op die hoogte van alle sake gebring en dat alles ook steeds op koers is vir die DA se federale kongres wat Saterdag en Sondag plaasvind. Danksy Ngwenya se groot bydrae is die party se beleidsake só geskaaf dat die DA gereed is om te regeer.

“Alles is onder beheer,” sê Cuthbert.

Sowat 2 000 DA-afgevaardigdes kom dié naweek in Midrand byeen vir die kongres waar nuwe leiers onder meer verkies sal word.

Cuthbert sê in hierdie stadium is daar geen nuwe beleidskwessies wat nog afgehandel moet word of by die kongres ingedien gaan word nie, en alle resolusies is reeds verwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.