Mpofu is die regsverteenwoordiger van die mynwerkers wat by die Lonmin-platinummyn gewond of gearresteer is. Chuma Komeni (23) en Thulani Simon (19) word daarvan beskuldig dat hulle Mpofu in April verlede jaar op ʼn strand in Oos-Londen aangeval en verskeie kere met ʼn mes gesteek het. Hulle word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof. Albei het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle. Komeni het Maandag aan die hof gesê dat hulle kort voor die voorval dwelms gebruik het. “Ons was hoog op dwelms en was nie van plan om hom te beroof nie maar toe die klaer ons aangeval het, het ons terugbaklei en hom met ʼn mes gesteek voor ons weggehardloop het.” Simon het vroeër getuig dat hy ʼn broek op die strand sien lê het en dit opgetel het. “Terwyl ek die broek vasgehou het, het iemand uit die bosse gekom en my aangeval. Ek het om hulp geroep en Komeni het tot my redding gekom.” Komeni het aan die hof gesê nadat Mpofu hom aangerand het, het hy ʼn mes uitgepluk en Mpofu verskeie kere daarmee gesteek uit selfverdediging. Die twee sal na verwagting Donderdag gevonnis word.
Lees ook:
Dali Mpofu-aanval: Verdagtes het glo oor sy broek baklei
Mpofu mag ná die aanval nog nie vlieg nie
Mpofu stabiel, Farlam-kommissie soek plaasvervanger
Dali Mpofu op strand aangeval