DBV waarsku oor permitte vir wilde diere

Die jakkals wat die Bloemfonteinse dierebeskermingsvereniging (DBV) gevind het (Foto verskaf)

Die Bloemfonteinse dierebeskermingsvereniging (DBV) sê hy het al telkens sy kommer uitgespreek oor die komplikasies om ʼn wilde dier as ʼn troeteldier aan te hou en waarsku dat dit onwettig is om ʼn wilde dier sonder ʼn wettige permit aan te hou.

“Die toestande waarin dié diere aangehou word, is skrikwekkend. Selfs dié wat met ʼn permit aangehou word,” het die DBV-tak gesê oor diere waarop hulle afkom tydens inspeksies en wanneer hulle klagtes ontvang.

“Ons het ʼn inspeksie gedoen op ʼn eiendom in Roodewal. Die persoon het honde, varke, pluimvee en ʼn jakkals aangehou. Die jakkals het in ʼn gebied rondgehardloop waar die eienaar ook van haar honde gehou het.”

Die jakkals was baie gefrustreerd en het tekens van gedragsprobleme getoon. “Die honde aan die ander kant van die heining het bly blaf vir die jakkals en die jakkals het bly rondhardloop om weg te kruip, maar daar is geen skuiling om haarself te beskerm nie.”

Die perseel waar die jakkals gevind is (Foto verskaf)

Die eienaar sê sy het die jakkals van ʼn plaaswerker verwyder wat haar in ʼn klein, geroeste hokkie aangehou het. “Ons weet die eienaar lieg, want die jakkals is nie bang vir haar nie. Die jakkals gaan lê op haar rug om op haar maag gevryf te word as ons haar roep.”

Die jakkals is nou van die eiendom verwyder en sal na ʼn Johannesburgse veearts vir wilde diere geneem word om haar te help om te rehabiliteer. ʼn Waarskuwing is vir die eienaar uitgereik om nie enige wilde diere sonder ʼn permit aan te hou nie, tesame met ander kommernisse oor diere se welsyn.

“Ons vra asseblief dat die publiek nie enige wilde dier as ʼn troeteldier sal aanhou nie. Hulle is reeds van hul tuiste verwyder net om in iemand anders se huis aangehou te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Wat is die alternatief vir n jakkals, om doodgeskiet te word omdat dit skape verniel. So of dit bly saam die honde of dit sterf, wat klink die beste? Hou asb perspektief, dbv. Dit is soos die “probleem” om tarentale aan te hou, wat is die alternatief, vergiftiging omdat dit volgens sommige landbouers n verpesting is. Net so met wilde varke en goed wat deur honde (onwettig) gejag word soos spring hase, jy mag die goed nie aanhou nie maar dit word uitgeroei in die veld….so wat nou beste dbv.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.