Die departement van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng het die afgelope jaar slegs ses klagtes oor onwettige of ongeregistreerde dagsorgsentrums ontvang, het die Saturday Star berig.
“Die departement het gevolglik drie kleuterskole in Vereeniging, Tshwane en onlangs in Rosettenville gesluit,” het Sello Mokoena, woordvoerder van die departement, aan die koerant gesê.
Die Voorskoolse Vereniging van Suid-Afrika het aan die koerant gesê daar is talle kleuterskole wat oral oopgemaak word, en dit is ʼn probleem, aangesien meeste daarvan nie by die korrekte liggame geregistreer is nie.
Mokoena het egter gesê hy is nie daarvan bewus nie, en bygevoeg dat 2 074 kleuterskole by die departement geregistreer is waarvan 1 206 subsidies van die regering ontvang. – SAPA