Departement ondersoek kwesbaarheid vir kuberaanvalle

Argieffoto (Foto: Pete Linforth / Pixabay)

ʼn Volledige forensiese ondersoek is van stapel gestuur na die departement van openbare werke en infrastruktuur se rekenaar- en inligtingstegnologiestelsel. Dit volg ná kwesbaarhede geïdentifiseer is met behulp van die departement se bankvennote, insluitend Absa en die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Minister Sihle Zikalala sê die Valke, SAPD, kenners in die inligtingstegnologiebedryf en kubersekuriteit sal in die ondersoek betrokke wees.

Die kwesbaarheid en weerstandigheid van die IT-infrastruktuur in die departement, kapasiteit van personeel en IT-stelsels en verbetering van interne beheer sal deel vorm van die ondersoek.

Zikalala is besorg dat die departement ʼn sagte teiken kan wees vir toenemend gesofistikeerde kubermisdade.

“Die departement probeer die omvang van die impak van kwesbaarheid bepaal, en om sy kuberweerstandigheid op te bou met behulp van kenners,” het hy bygevoeg.

Hy waarsku die publiek dat die huidige ondersoek ʼn impak sal hê op die prosessering van betalings aan krediteure en begunstigdes. “Ons versoek al ons vennote om geduldig te wees terwyl ons maatreëls instel om onsself, staatshulpbronne en kliënte teen kubermisdadigers te beskerm.”

Maroela Media het vroeër berig die voorkoms van spioenware-aanvalle in Suid-Afrika het in 2023 ʼn beduidende toename van meer as 20% getoon. Die meeste van hierdie aangemelde aanvalle is op regeringswebwerwe en -stelsels gemik, wat die potensiaal het om wesenlike onstabiliteit in die nasionale veiligheidsraamwerk van Suid-Afrika te veroorsaak.

’n Kuberkenner het intussen ook gewaarsku die moontlikheid bestaan dat kuberkrakers die verkiesing kan kaap, indien die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) nie in aanloop tot kiesdag onder meer goeie rugsteunkopieë van die volledige verkiesingsdatabasis maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cassie Carstens ·

As die staat se rekenaarsdienste nie reg en veilig is nie, kan hier groot verneukery kom in die verkiesings uitslae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.