Die direkteur-generaal van basiese onderwys, Mathanzima Mweli, het besluit om nie appèl aan te teken teen die Pretoriase hooggeregshof se uitspraak rakende die herskryf van die uitgelekte matriekeindeksamenvraestelle nie.
Die departement van basiese onderwys het Saterdag in ’n verklaring bevestig hoewel hy nie heeltemal gelukkig is met die uitspraak nie, sal hy dit aanvaar. Die uitgelekte tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskap-vraestel sal dus nié op 15 en 17 Desember herskryf word nie.
“Die departement en die sektor is uiteraard teleurgesteld oor die uitspraak, maar het besluit om eerder nie die situasie vir die klas van 2020 te vererger nie en sal dus nie teen die uitspraak appelleer nie, hoewel daar met respek gronde is daarvoor.”
Maroela Media het vroeër berig regter Norman Davis het beslis dat die oorskryf van die uitgelekte vraestel ongrondwetlik is en matrieks nie hierdie vraestelle hoef oor te skryf nie.
Die departement meen dat die uitspraak nie die kern van die saak aangeraak het nie, naamlik wat die uitwerking sou wees as die departement se ondersoek later bevind dat die geloofwaardigheid en integriteit van die eksamen weens die uitgelekte vraestelle in twyfel getrek word.
Daarbenewens is sommige bevindings volgens die departement nie in ooreenstemming met sekere wetgewende bepalings nie.
“Die departement sal die uitspraak verder bestudeer om die uitwerking van sommige bevindings in die uitspraak op die onderwyssektor te oorweeg en daarna oor die pad vorentoe besluit.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Sal liewer niks sê nie. Die foto sê alles …
Dws onwettig beteken niks vir julle nie. Kan ook nie glo dat ‘n woord soos geloofwaardigheid in julle woordeskat is nie!
Sy kan nou maar slagoffertjie speel. Iemand by haar Dept het die vraestel gelek. Soek daai knaap en maak plan met hom.
Daar is geen pad nie . Net een groot vuil sloot . Dis al.
Weereens n bewys dat niemand in die anc die regte besluite kan neem nie. Presies dieselfde as die noodtoestand en meeste van die covid regulasies, ens ens