Derduisende teken al petisie teen Cele

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: SA Polisie/Twitter)

Die druk op Bheki Cele, minister van polisie, neem toe namate byna 120 000 mense reeds petisies van Action Society en die DA onderteken het om van hom ontslae te raak.

Meer as 115 000 mense het die petisie van Action Society onderteken, terwyl die DA se petisie op sowat 7 700 staan.

Verder het Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, ʼn formele versoek vir die verwydering van Cele as minister by die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, ingedien.

“Die doel van die formele versoek is tweeledig. Eerstens poog ons om die gedrag van die sittende minister van polisie, wat die grondslag van die klagte vorm, onder die speaker se aandag te bring. Tweedens, om te versoek dat sy hierdie aangeleentheid ondersoek, daaroor aan die parlement verslag doen, en Cele ʼn gepaste sanksie oplê of alternatiewelik die aangeleentheid na die Gesamentlike Komitee oor Etiek en Ledebelange vir verdere beraadslaging verwys,” sê Cameron.

Hierdie aksies volg nadat daar twee weke gelede ʼn konfrontasie tussen die minister en Cameron by ʼn gespanne gemeenskapsvergadering uitgebreek het waartydens Cele op Cameron geskree het. Toe Cameron nie gehoor gee aan Cele se bevele om te sit nie, is hy glo hardhandig deur polisielede uit die saal verwyder en na sy motor begelei.

Cameron het in sy eie hoedanigheid ʼn strafregtelike klag ingedien teen Cele en die beamptes wat hom “fisiek aangerand” het, terwyl Action Society ʼn klag by die Openbare Beskermer sal indien. Dié klag sal ingevolge die Etiekwetsontwerp vir Uitvoerende Lede en sy gedragskode ingedien word vir Cele se “skandelike optrede, versuim om in goeie trou op te tree en dat hy die geloofwaardigheid en integriteit van sy amp in gedrang bring”.

Die DA se petisie volg nadat die party in Maart vanjaar al ʼn mosie van wantroue in die minister en sy kabinetskollegas ingestel het.

Die DA eis Cele se kop, onder meer oor sy steun vir die omstrede Wetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens, die tamaai agterstand met die verwerking van DNS-monsters, sy versuim om die polisie se landelike veiligheidsplan behoorlik in werking te stel en sy weiering om die geheime diensbegroting in 2020 af te teken – ʼn versuim wat volgens die DA een van die sleutelredes is vir die chaos by misdaadintelligensie en die onvermoë om verlede jaar se Julie-oproer in bedwang te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Niks sal met die nuttelose kader gebeur nie. Hy weet te veel van CR se geraamtes af.

Swerwer ·

Kan nie dink dat ‘n sluipmoordenaar hom nog nie uitgehaal het nie. Hy laat onskuldige mense vermoor en aangerand word want alles draai by hom oor mag.

Jannie van Niekerk ·

Wat help dit? Al teken vyfhondermiljard die petisie sal daar absoluut NIKS met hom gebeur nie. Hy is ‘n ANC kader en hulle is mos kroonwild.

Roek ·

Hoop hul gebruik goeie gehalte skuur papier want CR gaan net dood eenvoudig hom afvee met dit Cele is KZN en CR moet KZN kry en cele weet dit al te goed !!

Maritza ·

Trots dat Suid Afrikaners saam staam om van die gepeupel ontslae te raak. Net jammer niks sal daarvan kom nie want cANCer kyk na mekaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.