Deurbraak ná twee plaasaanvalle in Limpopo

Twee van die vuurwapens waarop die polisie na die aanvalle beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Altesame agt vermeende plaasaanvallers is agter tralies ná twee afsonderlike plaasaanvalle in Limpopo die afgelope paar weke.

Die polisie het ook reeds beslag gelê op elf vuurwapens, waarvan verskeie tydens die twee rooftogte gebuit is, sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder.

Speurders verbonde aan ʼn taakspan wat die voorvalle ondersoek, het Woensdagaand weer ʼn deurbraak in die ondersoek gemaak en twee verdagtes aangekeer nadat die ses ander vroeër reeds vasgetrek is.

Polisiebeamptes het ook beslag gelê op nog drie vuurwapens nadat vyf vroeër opgespoor is.

Die ondersoek spruit uit twee aanvalle in Desember – een op ʼn kleinhoewe in die Tshipise-omgewing en die ander een op ʼn wildplaas. Albei val onder die Musina-polisiëringsgebied.

Tydens die kleinhoewe-aanval het vyf aanvallers die huis ingekom en die eienaar van drie gewere, ʼn pistool, geld en verskeie bankkaarte beroof. Tydens die aanval op die wildplaas is verskeie vuurwapens en ʼn beige Toyota Land Cruiser (DHG 739 L) onder meer gebuit.

Die twee verdagtes wat pas aangekeer is, is Woensdagaand in Matswale, naby Musina, en in die Tshuituni-nedersetting in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is betrap met ʼn vuurwapen wat vermoedelik op die wildplaas gesteel is.

Die polisie is steeds op soek na nog ses vuurwapens; drie wat op die kleinhoewe geroof en nog vier wat tydens die rooftog by die wildplaas gebuit is. Die bakkie wat gesteel is, is ook steeds soek, sê Mojapelo.

Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiehoof in Limpopo, het ʼn beroep op mense gedoen om die polisie in die soektog na die res van die rowers, die sewe vermiste vuurwapens en die Land Cruiser te help deur enige inligting daaroor te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sean ·

Hoe kry ons die polisie in die hande nou weer! Julle het dan berig hulle andwoord geen foon nie

Harley Davidson ·

As al die polisie net hulle werk doen soos die geval nou met die Messina lede kan plaasaanvalle geheel en al gestop word.

Ditsim ·

Daar moet uitgevind word wie het vir hulle die opdrag gegee om die aanvalle te doen. Daar is ander wat die aanvalle beplan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.