Dié lekker haal al voorheen die nuus

Kinders het gekla van maagpyn en naarheid. (Rusa)

Die suiglekker wat blykbaar Vrydag veroorsaak het dat tientalle leerders van ʼn laerskool in KwaZulu-Natal inderhaas hospitaal toe moes gaan, het voorheen al die koerantopskrifte gehaal.

Die XPOP Energy Cola Fizz-suigstokkie wat Vrydag tydens ʼn skool se markdag verkoop is, is al in Februarie vanjaar onder die loep geneem toe 46 leerders van die Umvozane Primary School in KwaMaphumulo siek geword het nadat hulle die suigstokkies geëet het. News24 het destyds berig dat kinders die lekkergoed by straatverkopers gekoop het. Richester Foods, wat die lekkergoed vervaardig, het destyds gesê hulle is diep bekommerd oor aantygings dat sy produk kinders siek gemaak het. “Hierdie is een van ons gewildste produkte en sedert 2017 op die mark. Daarom doen ons nou dringend stappe om agter die kap van die byl te kom,” lui die verklaring op 3 Februarie vanjaar. Nege maande later het die maatskappy ʼn soortgelyke verklaring uitgereik en onderneem om ʼn “volledige ondersoek” te doen nadat omtrent 40 kinders Vrydag by ʼn laerskool in Verulam siek geword het. Al die geraakte leerders het XPOP Energy Cola Fizz-suigstokkies tydens markdag by ʼn medeleerder gekoop.

“Ons is baie hartseer om te hoor dat al hierdie kinders siek geword het. Die veiligheid van ons kinders en al ons klante bly ons hoogste prioriteit,” het dr. Hussein Cassim, besturende direkteur van Richester Foods, Vrydag gesê. Hy sê die suigstokkies is reeds na ʼn onafhanklike laboratorium gestuur om getoets te word.

“Die maatskappy het ʼn soortgelyke proses in Februarie vanjaar gevolg. Nadat die destydse besending suigstokkies getoets is, het KLM High-Gene Solutions bevind dat die suigstokkies veilig was om te eet en geen bakterieë of ander skadelike inhoud bevat het nie,” sê Cassim.

Hy sê Richester Foods is trots daarop dat hy van die strengste higiëne- en veiligheidstandaarde handhaaf. “Ons tree nou vinnig op om te verseker daar is geen swakplekke in ons gehaltebeheerprosesse nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.