Diere banger vir mensstemme as vir leeus

Argieffoto (Foto: Giselle Whiteaker / Pixabay)

ʼn Onlangse studie in die Krugerwildtuin het onthul dat mense se stemme baie meer vrees aanwakker in wilde soogdiere as die klank van leeus.

Wetenskaplikes het opnames van mense se gesels deur luidsprekers gespeel wat by watergate versteek is. Sowat 95% van die diere was uiters verskrik en het dadelik weggehardloop.

Daarteenoor het ʼn opname van ʼn leeu se knor en gegrom baie minder vrees aangewakker.

Die menslike spraak wat die navorsers gebruik het, het plaaslike tale ingesluit wat in die land gepraat word.

Tydens die eksperiment het hulle bevind dat sommige olifante, in reaksie op die geluide van die groot katte, selfs gepoog het om die bron van die klank op te spoor.

Die studie het bevind dat die diere, wat bokke, olifante, kameelperde, luiperds en vlakvarke insluit, geleer het dat kontak met mense uiters gevaarlik is, weens jag, vuurwapengebruik en die gebruik van honde om hulle te vang.

Die vrees wat die diere getoon het, strek wyer as die Krugerwildtuin, aangesien ʼn wêreldwye patroon wys dat wilde diere banger is vir mense as enige ander roofdier, aldus die studie.

Volgens die outeurs hou dit ʼn uitdaging in vir gebiede wat op natuurtoerisme staatmaak, omdat die besoekers wat hulle wil lok, onbedoeld die diere afskrik wat hulle wou sien.

Een van die outeurs, dr. Liana Zanette, het aan die BBC gesê hul navorsing fokus op die “ekologie van vrees” – ʼn konsep wat verwys na die impak van roofdier-prooi-interaksie op hul omgewing. Die bevindings het ook bepaal dat menslike klanke, wanneer dit behoorlik gebruik word, kan help in die stryd teen onwettige stropery. “Ons werk aan eksperimente om te toets of ons renosters kan afskrik van moontlike stropery-brandpunte,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janine ·

Dit verbaas my nie. Laaste besoek by JHB dieretuin is daar vuvuzelas by die hek verkoop, en elke platkop het met die gemors rondgeloop en geraas gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.