Dieselfde psalmboek nodig om opposisie te verenig

John Steenhuisen kort nadat hy as leier van die DA herkies is. (Foto: DA/Twitter)

Die DA se leierskap weerspieël nie die demografie van die land nie – maar dit kan ook van die ANC gesê word – en hoewel dit dalk onsensitief kan lyk, skuil daar vele kompleksiteite agter die amptelike opposisie se leierskap. Prof. Ntsikelelo Breakfast, ʼn politieke ontleder by die Nelson Mandela-universiteit, sê kritiek dat die DA se leierskap nie verteenwoordigend genoeg is nie, beteken nié dat die party nie al groot vordering gemaak het om diversiteit in eie geledere te bevorder nie.

Breakfast sê senior partyleiers is die gesig van die party en ondeurdagte uitsprake het die DA in die verlede al duur te staan gekom. Hy verwys onder meer na voormalige DA-leier Mmusi Maimane, nou leier van Build One South Africa, wie se uitsprake destyds talle kiesers laat besluit het om hul politieke heil eerder elders te gaan vind.

“Leierskap is nie ʼn gebeurtenis nie, dit is ʼn proses,” sê Breakfast oor die amptelike opposisie se leierskapsamestelling.

Hy meen sommige opkomende swart leiers is dalk “oorambisieus” en moet, pleks daarvan om dadelik vir die topposte te mik, eers deur ʼn groei- en gereedmakingsproses gaan.

“Wanneer hierdie leiers verloor, is hulle verleë en gaan soek hulle elders groener weivelde.”

Dit beteken opnuut ʼn verlies aan ʼn swart leier. Breakfast sê wanneer kiesers nie “een van hul eie” in die leierskapstruktuur sien nie, kan dit hulle dalk ook afskrik om hul steun aan ʼn party te gee.

Ekserne faktore speel ook rol

Veel meer het egter ʼn invloed as net die gesig op ʼn verkiesingsplakkaat.

Prof. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, sê kiesersgedrag het nie altyd te doen met die beloftes wat ʼn bepaalde politieke party maak nie, maar ook baie met dít wat die regerende party doen, of nie doen nie. Kwessies soos beurtkrag en korrupsie stel kiesers teleur en laat hulle na alternatiewe soek.

“Bo en behalwe dit wat die DA-leiers sê, is daar ook eksterne faktore wat ʼn rol speel; dit is soms baie leiers se redding,” sê hy. “Ek dink daar is baie meer faktore as net die leierskap.

“Een van die goed waarna mense kyk, is of daar vernuwing is. Is daar verbetering? Is daar ʼn haalbare belofte? Is daar iets om na uit te sien?”

Hy sê die DA se voorgestelde politieke ooreenkoms – wat DA-leier John Steenhuisen die “moonshot pact” noem – is ʼn belangrike aanduiding van verandering voor die verkiesing. Dit dui op voorgenome samewerking – vóór die verkiesing – en beteken kiesers weet uit die staanspoor waar hulle staan.

“Dit is die voordeel van ʼn ooreenkoms, of pakt. Of jou nou vir die IVP stem, of die DA of die VF Plus, jou stem gaan vir een alliansie. Dit maak dit eintlik makliker, want jy kan nog steeds sê jy is ʼn deurwinterde DA- of VF Plus-lid wat nie jou beginsels versaak nie en steeds stem vir die party van wie jy hou – maar met ʼn stem wat bydra tot ʼn groter geheel.”

In só ʼn ooreenkoms is dit belangrik dat politieke partye die ooreenkoms onderling bespreek en hulself vra waar groeipotensiaal lê. “

“Want wanneer ʼn kieser eers een keer sy stem geswaai het, is dit moeilik om daardie stem terug te wen.

“Daar gaan ʼn beperkte oorvloei van lede wees. Dit is hoekom dit so belangrik is vir politieke partye binne die pakt dat hulle leiers en leierskap naastenby uit dieselfde psalmboek sing; dat hulle nie oor mekaar praat of teenstrydighede kwytraak of onbesonne dinge doen wat die verhouding in die gedrang kan bring nie,” sê Venter.

Hy sê politieke partye binne so ʼn voorgestelde ooreenkoms moet mekaar ook nie verras nie en as daar wesenlike verskille is – en daar gáán en móét wees – moet dit behoorlik hanteer word.

Verkiesing in 2024

Afgevaardigdes by die DA se pas afgelope kongres in Gauteng. (Foto: DA/Twitter)

Breakfast sê eenparty-oorheersing is iets van die verlede, maar die EFF en ANC beweeg ideologies baie na aan mekaar, wat hulle ʼn bedreiging vir die DA maak. Dit kan ook ruimte skep vir ʼn samevoeging van magte tussen die twee partye.

“Daar is geen politieke party wat die ANC op sy eie kan ontsetel nie. Die DA moet hom strategies posisioneer en indien hy wel die ANC help uitskop, moet hy nederig daaroor wees. Somtyds tree die party op soos volstrekte oorwinnaars.”

Die ACDP het reeds gesê hy gaan nie voor die 2024-verkiesing enige koalisieooreenkoms aangaan nie. “Die ACDP was nog altyd oop vir gesprekke met politieke partye wat die beste belang van alle Suid-Afrikaners op die hart dra, wat dienslewering sal prioritiseer en nie net lippediens doen aan die hantering van misdaad en korrupsie nie. In hierdie gesprekke word ons gelei deur ons grondwet, beleid, visie en manifes,” sê Wayne Thring, ʼn ACDP-LP en die party se adjunkpresident.

Thring waarsku dat enige kolskoot- politieke proses, wat versuim om inklusief te wees en nie behoorlik met ander partye konsulteer nie – en een waar ʼn enkele party hom as verhewe bo die res posisioneer – sy moses gaan teëkom.

Venter se “baie versigtige” verwagting is dat die ANC op sy eie die vermoë het om op sy eie tussen 46% en 50% van steun in die nasionale verkiesing te mobiliseer. “Wat hulle nodig het, is een of twee klein partye om hulle oor die drempel te dra. Ek voorsien vir die ANC groot probleme in 2029. Dan is Cyril Ramaphosa weg – hy kan dalk voor die tyd gaan – maar dan is hy beslis weg.

“Het die leiers wat ná hom kom die vermoë om die ellende waarin die ANC die land gedompel het, te bestuur?”

Sou ʼn samewerkingsooreenkoms tussen opposisiepartye realiseer, kan hulle moontlik tussen 30% en 35% van die steun trek, is Venter se verwagting. Dit kan beteken die twee grootste provinsies is ná volgende jaar nie meer onder ANC beheer nie – wat groot uitdagings vir die ANC beteken.

“Mense is baie mismoedig oor wat gebeur met beurtkrag, stygende lewenskoste, brandstofpryse, swak dienslewering… Dit is die werk van politieke partye om mense opgewonde te maak om te gaan stem. Dit is hulle werk om mense te oortuig om dinge een keer anders te doen.

“In só ʼn pakt is die party met die sterkste strukture dié van die DA. Die party het ʼn uitstekende organisatoriese masjien. As hy dit tot die beskikking van ander partye wat saamwerk ook stel, word dinge nog beter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Jul’s reg oor die psalmboek… ‘n regte een want regte geloof in ons Oppergesag is nodig want selfs die DA respekteer nie die doel van Sondag nie. John se krag moet van Bo kom en nie mbv die vereniging van opposisie partye nie. Hy is dom om sy vrese so te verkondig. Dit sal juis verkeerde groepe laat verenig. Die vreeslike samewerking wat swartes verkondig is bloot maar net om die DA totaal te laat oorheers deur swartleiers. En daar gaan ons weer op dieselfde deuntjie van vergrype.

Sobymykoolkop ·

Nou verwag tito die DA moet hulle betaal om te bly? Hulle is vry om te gaan. Sodra daar nie MEER voordele is nie loop hulle eerder.

JuanRe ·

Politiek en Goddiens is die ondergang van die wereld, nog erger as die twee gemeng word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.