Dieter Bergs glo te siek, uitspraak uitgestel

Argieffoto van Dieter en Genée Bergs. (Foto: Verskaf)

Die moordsaak teen Dieter Bergs sloer voort.

Die Johannesburgse hooggeregshof sou moontlik Donderdag eindelik uitspraak lewer rakende die moord op Genée Bergs, Dieter se eggenoot. Die saak is toe egter weer uitgestel omdat die 87-jarige Dieter glo te siek was om sy hoofde van betoog betyds in te dien.

Dít nadat die regter verlede maand ’n spertyd vir die staat én die verdediging se hoofde gestel het, om hom in staat te stel om moontlik gister uitspraak te lewer.

Die saak sal nou in Oktober hervat word, hoewel die staat sy hoofde van betoog betyds ingedien het.

Dieter word daarvan beskuldig dat hy Genée (70) in 2014 in haar huis in die Johannesburgse spogbuurt Parktown-Noord doodgeskiet het. Dieter voer egter aan sy vrou is destyds tydens ’n rooftog geskiet.

Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê verskeie lede van Genée se familie, onder wie Liane Heyl, Genée se susterskind, was gister in die hof, hoopvol op ’n uitspraak. “’n Mens kon hulle frustrasie aanvoel omdat die saak nogmaals uitgestel is. AfriForum betreur ook die verdere uitstel, aangesien dit verdere tydverspilling is en veroorsaak dat die familie weereens teleurgesteld moes huis toe gaan.”

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Genée se familie het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 genader om met die saak te help, nadat geen vordering met die vervolging van Dieter gemaak is nie. Dieter is gevolglik in 2020 van moord aangekla nadat die eenheid vertoë aan die direkteur van openbare vervolging gerig het.

Dieter word aangekla van vyf misdade wat hy na bewering tussen 2013 en 2014 gepleeg het. Dit sluit in die moord op Genée Bergs, vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die voorhou van vervalste dokumente.

Maroela Media het vroeër berig indien Dieter nie verhoor en skuldig bevind word nie, kan hy van sy oorlede vrou erf. Dit sal egter nie die geval wees as hy aan haar moord skuldig bevind word nie.

Sou Dieter skuldig bevind word, sal hy vir die res van sy lewe as ’n staatspresidentspasiënt in ’n instelling vir verswaktes aangehou word. Dit volg nadat hy op grond van ’n psigiatriese verslag van Sterkfontein bevind is as onbevoeg om verhoor te word.

Die saak is uitgestel tot 14 Oktober 2022.

Lees meer hier oor die moord en eindelike vervolging van Dieter Bergs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Die nuwe sport in SA…..kyk hoe lank ju UIT die hof kan bly…..5jaar, 7jaar, 10jaar? Dink in Zuma se geval is dit al 13jaar.

Anke ·

Oom, jy kan net op aarde speel vir tyd. Jou ware oordeel wag vir jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.