Dís hoekom DA Bela-wet verwerp

(Argieffoto: Shutterstock)

Die DA het dit uit die staanspoor baie duidelik gemaak dat hy die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, alombekend as die Bela-wet, in sy huidige vorm verwerp.

Die party beoog nou om saam met verskeie ander politieke partye en organisasies Donderdag buite die parlement op te ruk waar die wetsontwerp voor die Nasionale Vergadering ter tafel gelê gaan word.

Baxolile “Bax” Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê daar is verskeie redes waarom die amptelike opposisie die wetgewing soos dit nou lyk, in die geheel verwerp.

Verpligte graad R

Die DA sê hy steun die voorneme van verpligte graad R, maar die departement van basiese onderwys het eenvoudig nie die R12 miljard wat benodig word om dit vir alle leerders in werking te stel nie.

Die DA is ook bekommerd dat die implementering van hierdie klousule besnoeiings aan sukkelende, maar noodsaaklike programme soos die nasionale skoolvoedingsprogram of die leerdervervoerprogram tot gevolg kan hê.

Toelatingsbeleide

Die Bela-wetsontwerp poog om ’n skool se toelatingsbeleide in die provinsiale regering te setel pleks van by die skool se beheerliggaam. Die DA sê die administratiewe las op departementshoofde om elke toelatingsbeleid in die provinsie goed te keur, sal geweldig en onprakties wees.

Dit kan ook tot magsmisbruik lei.

“Die DA glo dat toepaslike meganismes in plek gestel moet word vir seldsame gevalle waar ʼn skool teen leerders diskrimineer. Die hoof van die departement kan egter nie speler en skeidsregter wees nie.”

Taalbeleide

Die DA is daarteen gekant dat beheerliggame ontmagtig word om skole se taalbeleid te bepaal.

“Ons is bekommerd dat hierdie klousule uitgebuit kan word om enkeltaal- en moedertaalonderrigskole te teiken om hul taalbeleid te verander. Dit is ook hoogs onprakties vir die hoof van die departement van onderwys om die taalbeleide van al die skole in die provinsie binne die vereiste tydraamwerk goed te keur.”

Sentralisering van mag

Die DA sê die beheerliggame van openbare skole en skole vir leerders met spesiale behoeftes behoort vry te wees om te bepaal hoe hul lede verkies word – sonder die minister se inmenging.

Die opposisieparty sê ook ʼn spertyd van 14 dae is onredelik kort om teen die ontbinding van beheerliggame te appelleer.

Regulering van tuisonderrigsektor

Die DA sê die departement van onderwys het tot dusver versuim om sinvol met die tuisonderrigsektor te beraadslaag oor die mees redelike en gepaste maniere om leerders te assesseer. Die departement het volgens die party ook nie ouers se bekommernisse oor registrasie van leerders en inspeksie van persele bevredigend hanteer nie.

Die party glo ook die wetsontwerp in sy huidige vorm hanteer nie aanlyn leer behoorlik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Lesufi het hiermee begin.Dit is uitsluitlik daarop gemik om Afrkaanse en privaat skole te teiken waar gehalte onderwys gelewer word teenoor die mislukking van staatsbeheerde skole.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.