DJ Fresh met onmiddellike effek afgedank

DJ Fresh. Foto: Facebook

Die bekende radiopersoonlikheid DJ Fresh is met onmiddellike effek deur die SAUK afgedank.

Volgens die openbare uitsaaier volg DJ Fresh, oftewel Thato Sikwane, se afdanking ná onsuksesvolle pogings tussen die partye om die saak te beredder nadat Sikwane, aanbieder van die ontbytprogram op Metro FM, in Junie voorlopig van die lug gehaal is.

Dit het glo gevolg nadat hy ʼn Zoeloe-vloekwoord tydens ʼn uitsending gebruik het en glo ook ʼn luisteraar beledig het. Sy uitlatings het ʼn klag by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) tot gevolg gehad.

Volgens die SAUK het die UKKSA die openbare uitsaaier skuldig bevind en gestraf ná die klag en het DJ Fresh se aksies dus die SAUK in oneer gebring.

“Sikwane is die geleentheid gegee om sy kontraktuele oortredings reg te stel wat hy versuim het of geweier het om te doen. Hierdie optrede het die vertrouensverhouding tussen hom en die SAUK onherroeplik laat skade ly,” het die SAUK in ʼn verklaring gesê.

Volgens die uitsaaier het Sikwane se regsverteenwoordigers, in ‘n brief gedateer 28 Junie 2019, aangedui dat hul kliënt toegelaat moet word om onmiddellik terug te keer werk toe maar dat hy geen verskoning sal aanbied nie. Die SAUK het ook daarop gewys dat dit strydig is met ʼn verklaring wat Sikwane op 8 Julie uitgereik het waarin hy beweer het hy was bereid om verskoning te vra.

Nada Wotshela, uitvoerende hoof van radio by die SAUK, het gesê die openbare uitsaaier is steeds daartoe verbind om goeie bestuur en interne beheer te verseker, ongeag die posisie van ‘n werknemer of vryskutwerker. “Die SAUK sal mettertyd kommunikeer wie Metro FM se ontbytprogram sal oorneem en ons is dankbaar vir die span wat in dié tydperk die fort gehou het.”

DJ Fresh was voorheen ʼn aanbieder op die gewilde SAUK-radiostasie 5 FM.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lee ·

Dit klink vir my reg. Tenmiste word almal wat oortree dieselfde behandel. Mooi man.

Silvia ·

what is good for one is good for all in SA, no-one above the LAW

Maljan ·

Wie het Hy beledig? Moes dudzane, Julius of aan die lê gewees het. Ander het hy ook n HOP-huis theory om te verhuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.