Donkernag-soektog na studente wat op staptog verdwaal

Drie uitruilstudente is Dinsdagaand gered nadat hulle in die Jonkershoek-natuurreservaat verdwaal het. (Foto: Facebook / WSAR / Werner Badenhorst)

Reddingswerkers van die Wildernis-soek-en-redding (WSAR) is laat Dinsdagaand na die Jonkershoek-natuurreservaat naby Stellenbosch ontbied nadat drie buitelandse uitruilstudente op ’n staptog verdwaal het.

Die studente, in hul vroeë 20’s, het hulp ontbied nadat hulle op ’n hoë bergpiek vasgeval het en nie voor donker die regte pad na onder kon vind nie.

David Nel, ’n woordvoerder van WSAR, sê die studente het vroeg Dinsdagoggend met hul staptog na die Jonkershoekpieke begin.

“Hulle het by die Langrivierkloof opgestap en het gesukkel om die regte pad bergaf te vind nadat hulle die piek bereik het,” het Nel gesê.

“Ná twee mislukte pogings om by Vensterkloof en Nerinakloof af te stap, het hulle besef dat hulle dit nie na onder gaan maak voordat dit donker word nie. Hulle het dus besluit om hulp in te roep.”

Reddingswerkers is onmiddellik ontbied en het in die donker bergop begin stap om na die verdwaalde stappers te soek.

Nel sê die verdwaalde stappers kon gelukkig aan reddingswerkers beskryf waar hulle is, wat die soekgebied aansienlik verklein het.

“Die jong man en twee vroue is kort ná middernag opgespoor en hulle is stadig terug na die beginpunt van hul staptog begelei.

“Hoewel hulle moeg was, was die studente in goeie luim en dankbaar dat hulle veilig van die berg af gehelp is.”

Al die stappers en reddingswerkers was teen 05:30 Woensdag veilig van die berg af.

Nog stappers in moeilikheid

Dié voorval was een van vyf voorvalle waarop die WSAR vandeesweek gereageer het.

Reddingswerkers is Maandagaand na Tafelberg ontbied nadat drie stappers naby Judaspiek verdwaal het. Die verdwaalde stappers is na reddingsvoertuie begelei en veilig na onder geneem.

Dinsdagmiddag het reddingswerkers ’n 72-jarige stapper in Platteklipkloof bygestaan nadat hy krampe ondervind het. Die man is tot by die Tafelberg-kabelkarre geneem en met ’n kabelkar bergaf geneem.

Terwyl reddingswerkers die bejaarde man bygestaan het, het hulle nog ’n oproep vir hulp ontvang. ’n 41-jarige stapper was op die India Venster-staproete gestrand nadat hy ook erge krampe gekry het.

Die stapper is met ’n noodhelikopter na ’n nabygeleë landingsgebied geneem en van daar af verder behandel.

Reddingswerkers is Dinsdagmiddag, kort voor die voorval by Jonkershoek, na Maclear’s Beacon ontbied nadat ’n groep buitelanders ook op ’n staproete verdwaal het.

Die drie buitelanders is gelukkig vinnig opgespoor en met ’n Tafelberg-kabelkar bergaf geneem.

Kort daarna het reddingswerkers die noodoproep van die studente in Jonkershoek ontvang.

“Ons het ’n besige paar maande agter die rug. Hoewel ons avonturiers aanmoedig om versigtig te wees, wil ons almal ook daaraan herinner dat ons toegewyde reddingspanne het wat gereed is om enigiemand te help wat in die moeilikheid beland.”

  • WSAR se noodnommer is 021 937 0300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.