‘Drakoniese waterregulasies eintlik slinkse onteieningsplan’

Vaaldam (2010) (Foto: Michael Gundelfinger – eie werk via Wikimedia Commons)

Die voorgestelde nuwe waterregulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes en gepaardgaande waterhulpbronbestuursplanne wat onlangs deur die departement van water en sanitasie voorgelê is vir openbare kommentaar, is “’n slinkse plan om die onteiening van waterregte te bewerkstellig”, het AfriForum vandag gesê.

Dié burgerregteorganisasie gaan in sy voorlegging sterk kapsie maak teen die voorgestelde regulasies aangesien dit nie net ontspanningswatergebruikers se gevestigde regte vertrap nie, maar ook neerkom op ’n growwe oorskryding van regeringsmag.

“Die voorgestelde maatreëls bedreig die bestaande regte van grondeienaars, ondernemings, sportklubs en toerisme-operateurs wat tans wettige toegang geniet tot damme oor die hele Suid-Afrika heen, soos die Vaaldam, wat deur die DWS besit en bestuur word,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

AfriForum se kernbekommernisse ten opsigte van dié regulasies vir ontspanningswatergebruik sluit in:

  • Erodering van publieke regte: Die voorgestelde regulasies ondermyn die publiek se bestaande reg (soos verskans in die Nasionale Waterwet, Wet 36 van 1998) om water vir ontspanningsaktiwiteite te gebruik. Dit kom in werklikheid neer op ’n blatante onteiening van bestaande wettige regte.
  • Eiendomsreg in gevaar: Die regulasies stel swaar vereistes aan grondeienaars wie se eiendomme aan staatswaterwerke grens, wat ook effektief neerkom op ’n onteiening van hul regte en die waarde van hul eiendom verminder.
  • Illusie van omgewingskwessies: Die oënskynlike doel van die waterhulpbronbestuursplanne is die volhoubare omgewingsbestuur van damme, om strukture wat reeds deur die Nasionale Waterwet vir hierdie doel geskep is, soos Opvanggebiedbestuursagentskappe, te omseil.
  • Illusie van kommersiële visserye: Die waterhulpbronbestuursplanne se voorstel vir kommersiële visserye, terwyl waterliggame met rou riool besmet is, is nie net absurd nie, maar hou aansienlike gesondheidsrisiko’s vir verbruikers in.
  • Oormatige burokrasie: Die waterhulpbronbestuursplanne stel oormatige administratiewe prosesse in, wat grondeienaars dwing om ’n ingewikkelde web van kontrakte en operasionele planne te navigeer, wat hul vermoë om toegang tot water te verkry, ernstig belemmer.
  • Miskenning van sportklubs: Sportklubs wat naby waterliggame gesetel is, sal deur ’n stortvloed van onnodige regulasies in die gesig gestaar word wat geen invloed het op watergebaseerde ontspanningsaktiwiteite nie en die voortbestaan van hierdie gekoesterde gemeenskapsinstellings sal bedreig.

“Soos ons gesien het met die omstrede konsepregulasies oor watergebruikslisensies wat vroeër vanjaar gepubliseer is, waarmee die DWS poog om rassekwotas vir sekere watergebruike in te stel, is hierdie regulasies insgelyks ondeurdag, ultra vires en niks anders as ’n gevaarlike ideologiese en polities gemotiveerde toertjie om die regering se verbintenis tot radikale transformasie ten toon te stel nie,” voeg De Vaal by.

“Intussen probeer hulle naarstigtelik om hiermee die aandag van hul mislukkings af te trek. AfriForum staan hierdie onregverdige inbreuk op ons regte ten sterkste teen en heg waarde aan die belangrikheid daarvan om ons natuurlike hulpbronne te bewaar en terselfdertyd die verantwoordelike ontwikkeling van toerisme aan te moedig.”

AfriForum het reeds regsadvies ingewin en sal binnekort omvattende kommentaar oor die ontspanningswatergebruikregulasies indien.

AfriForum doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul stem teen hierdie ongeregverdigde regulasies te laat hoor. Die sluitingsdatum vir die publiek om hul kommentaar in te dien is 20 Oktober 2023.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is weereens n rasistiese wetgewing gebaseer om huidige benaadeelde mense verder te benaadeel.

annie ·

Staatsbeheer is vasgelê in die planne van die ANC en sy meeloper en grootbaas, die Kommuniste Party, se basiskonsep vir landsake. Die ANC speel net dit is demokraties. Dit was nog nooit; net oë-verblindery. Die ANC het die land bankkrot regeer vandaar g’n nuwe skole of damme of infrastruktuur of kragnetwerke. Die opgebruik van dit wat nog is en werk, is volgende. Vat wat hul kan van die wit bevolking is die beloftes vir die volgende verkiesing. Wat anders kan nog belowe word? Naamsverandering vorm deel.

Nico ·

Die ANC se motto is, wat myne is, is myne, wat joune is moet ons deel.

Truman Burbank ·

Jy is korrek. Hierdie kom van veel hoër as die ANC ploerte

R*R ·

Dit en alle ongrondwetlike beginsels en onregmatige beginsels van die a n c moet ten sterkste teen gestaan word! Wat dit op neerkom is dat die ANC NIE ‘N IDEE HET HOE OM ‘N LAND REG TE REGEER NIE! In die sin van hulle dubbelsinnigheid, hulle wil toeriste lok en beleggings, maar beperk en blokkeer al die bronne daarvoor. Van grond, krag tot water, hulle ontneem toerisme en burgers van basiese en lewensregte! Die wêreld kan nie regerings hê wat mense se lewensreg tot krag en water ens ontneem nie, want dis ook teen God se beginsels van genesing en gesonde groei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.