Drie polisiebeamptes van die Lenasia-landdroshof word ondersoek ná sewe verhoorafwagtendes vroeër vandeesmaand ontsnap het.
“Drie polisiebeamptes word in verband met die ontsnapping ondersoek, maar hulle is nie aangekla nie,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. Hy het verduidelik alhoewel geen klagtes nog formeel teen die beamptes gelê is nie, word ʼn interne ondersoek gedoen om te bepaal of hulle die gevangenes gehelp het.
Die gevangenes het in die hof verskyn op aparte aanklagte wat verband hou met roof met verswarende omstandighede, huisbraak en diefstal. Die misdade is in Lenasia, Eldoradopark en Ennerdale gepleeg.
Die verhoorafwagtendes het omstreeks 16:00 op 8 Junie uit polisie-aanhouding ontsnap en almal, buiten twee verdagtes, is intussen weer aangekeer. “Die ondersoek duur voort,” het Dlamini gesê. “Omdat hulle verhoorafwagtend was in verskillende sake, verwag ons nie dat die twee gevangenes bymekaar is nie.”
Drie van die verdagtes, Mpho Ramotsole, Luvesh Veerasamy en Brendon Paul is op 9 Junie weer in hegtenis geneem. Ramotsole is in Ennerdale opgespoor en Veerasamy en Paul is by hul huise in Lenasia-suid gevind. Johnson Leroy is op 17 Junie in Eldoradopark gevind en lede van die Eldoradopark-gemeenskap het Romeo Beukes aan die polisiebeamptes uitgewys en hy is op 22 Junie in hegtenis geneem. Dumisani Selepe en Thabiso Sebelwane is steeds op vrye voet.
Dlamini het die publiek gemaan om nie die twee verdagtes te konfronteer nie, maar om eerder die polisie dadelik te kontak.
“Enige beampte wat daaraan skuldig bevind word dat hulle die gevangenes gehelp het om te ontsnap sal tereg staan op kriminele aanklagte, en dissiplinêre stappe wat tot ʼn ontslag uit die polisiediens kan lei,” het Dlamini bygevoeg.
Lees alle vorige berigte oor die ontsnapping uit die Lenasia-hof op Maroela Media.
inside job.
Niks nuuts nie, volgende?
Ek kan nie verstaan hoekom enkelboeie NOG STEEDS nie as STANDAARD voorkomingsmaatreël toegepas word nie!!!