Drie vas wat hulle as metropolisie voordoen

Die EMPD-uniforms wat in die verdagtes se besit gevind is. (Foto: Verskaf)

Drie mans, onder wie ’n Zimbabwiese burger, is Woensdag op die R562 in Midrand, Gauteng, in hegtenis geneem nadat hulle hulself as beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) voorgedoen het.

Sello Maremane, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, sê lede van die Gautengse verkeerspolisie was Woensdagoggend besig met ʼn roetine-padondersoek toe hulle ʼn verdagte wit Nissan NP 300 opgemerk het.

Die lede het die verdagte voertuig voorgekeer en die lisensieskyf nagegaan. Die lisensieskyf was verdag en die insittendes van die Nissan is gevra om uit die voertuig te klim sodat die voertuig deursoek kon word.

Dit is toe dat die beamptes opmerk dat een van die insittendes, ’n Zimbabwiese burger, geklee is in ’n EMPD-uniform.

Die beamptes het die mans ondervra en vasgestel dat hulle nié beamptes van die EMPD is nie. Die drie het in die stadium omkoopgeld van R20 000 aangebied om inhegtenisneming te ontduik.

Die verdagtes is egter op die plek in boeie geslaan en na die Midrand-polisiestasie geneem.

Maremane sê twee volledige stel EMPD-uniforms, EMPD-stewels, drie verkeersbeampte-reflektiewe baadjies, tien steursenders, ʼn motorbattery, ’n panga, vier selfone en ʼn replika van ʼn Z 88/Beretta 9 mm- vuurwapen is tydens die inhegtenisneming in die verdagtes se motor gevind.

Die verdagtes, onderskeidelik 34, 41 en 45, sal Donderdag in die landdroshof in Midrand verskyn op aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, die nabootsing van ʼn wetstoepasser, korrupsie en die besit van steursenders.

“Die Gautengse verkeerspolisie wil die publiek waarsku dat dit onwettig is om voor te gee jy is ʼn wetstoepasser,” sê Maremane. “Die Gautengse verkeerspolisie wil ook die strafregstelsel aanspoor om hierdie soort misdadigers ʼn strenger vonnis op te lê aangesien hulle die reputasie van hardwerkende wetstoepassers in die provinsie skade aandoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lillian ·

En hoe kry hulle die uniforms in die hande? Doen bietjie verder ondersoek as net om hierdie 3 aan te kla en toe te sluit.

JohanR ·

As jy nie die in die blou lug motor kan vertrou nie, wie kan jy dan?

Delia ·

Goeie werk Polisie. So bly daar is nog beamptes wat gut feelings het oor verdagte aktiwiteite.
Met n panga was hulle definitief nie na n koek en tee partytjie. Hulle is uit om te MOOR

Di ·

Dan wil hulle ons vertel dis nie die “imigrante” wat misdaad hier kom pleeg nie!! Kyk mar na al die berigte waar hulle vasgetrek word ivm misdaad, meeste ONWETTIG in die land. Julius se boeties, almal mos welkom.

Phillip ·

Sien Ek stop by geen ou wat in die pad spring om my te stop met baaitjie of nie . Kry my by die naaste Polisiestasie dankie

Daniel ·

Dis nou goed en wel maar more oggend 9 uur loop al drie weer buite met 10 rand borg elk.

Catherina ·

……en dan behandel hulle jou soos daardie jong meisie wat te bang was om te stop, ry toe na naaste motorhawe om daar te stop en word deur verkeerspolisie aangerand?

Joggie ·

Lyk my daar is baie beamptes wat hulle uniforms aan misdadigers verkoop?

Perdeby ·

In boeie geslaan en gaan seker vandag borg kry! Mense wat hulle voordoen as Metro of SAPD lede voordoen moet nie borg kry nie.

koos ·

Nou moet hulle nog net mense in die Uniegebou ook arresteer wat hulle voordoen as ‘n regering….

Jaco ·

Metropolisie ressorteer onder die munisipaliteit. Die Ekurhuleni munisipaliteit was tot gister toe onder DA beheer. So hoe dan nou?

Catherina ·

Onwettig om voor te gee jy is n beampte, maar onwettig om nie stil te hou as jy onveilig voel en nie seker is of hulle regtig beamptes is of nie?!

Jakes ·

Welgedaan polisie. Vraag is waar kry die kriminele die uniforms en ander toerusting?

JohanR ·

Amper almal dra ‘n geel en oranje baaitjie deesdae, selfs die “car guards”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.