Druk op Wes-Kaapse hospitale effe verlig

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die provinsie ondervind ʼn “effense verligting” in Covid-19-gevalle in die metropool, maar waarsku nogtans dat waaksaamheid nie verslap moet word nie.

Winde het Donderdag gesê die moontlike afname in sake kan gesien word in die data oor hospitaalopnames en sterftes. Dit is egter nog te vroeg om te sê die ergste is verby.

“Ons weet bloot nie genoeg van die virus om dit aan te voer nie,” het Winde gesê.

“Ons is steeds midde-in ʼn ernstige gesondheidspandemie.”

Volgens Winde het hospitaalopnames in private en staatshospitale in die Wes-Kaap oor die afgelope tien dae gestabiliseer. Beddens in kritieke sorgeenhede het vroeër ʼn daaglikse maksimum van 320 pasiënte bereik, maar staan op hierdie stadium op tussen 270 en 280 pasiënte.

Waar algehele Covid-19-opnames vroeër ʼn daaglikse maksimum van 1 900 pasiënte gehandhaaf het, is daar nou tussen 1 600 en 1 700 opnames per dag.

Winde het gesê die gemiddelde kapasiteit van hospitale is 69%.

Die verskillende hospitale se kapasiteit lyk só:

  • Groote Schuur-hospitaal: 71%
  • Tygerberg-hospitaal: 64%
  • Rooikruis-kinderhospitaal: 47%
  • Mowbray-kraamhospitaal: 74%
  • New Somerset-hospitaal: 72%
  • Eersterivier-hospitaal: 95%
  • Valsbaai-hospitaal: 33%
  • Helderberg-hospitaal: 52%
  • Khayelitsha-hospitaal: 86%
  • Karl Bremer-hospitaal: 79%
  • Mitchells Plain-hospitaal: 74%
  • Victoria-hospitaal: 74%
  • Wesfleur-hospitaal: 23%

Volgens die premier het die veldhospitaal die groot druk op ander hospitale verlig. Die Hospitaal van Hoop het tot dusver 1 069 pasiënte opgeneem, van wie 751 ontslaan is en die Thusong-sentrum in Khayelitsha het 1 978 pasiënte opgeneem en 138 ontslaan.

Winde het gesê toetse en noodsorgprioritiseringsentrums by gesondheidsfasiliteite word steeds geopen en die provinsie het reeds 19 van dié fasiliteite. Nog sewe open binnekort en bouwerk aan ʼn verdere 15 vorder.

Volgens die premier was 324 ventilators vir intensiewe sorgeenhede en 94 vervoerbare ventilators voor die pandemie beskikbaar. Tot dusver is nog 25 bygevoeg. Nagenoeg R250 miljoen is ook aan gesondheidstegnologie bestee om die provinsie se reaksie op die pandemie te verbeter.

Altesaam 620 mense is by veldhospitale in diens geneem en ʼn ooreenkoms bestaan tussen die private gesondheidsektor om toegang tot hul dienste te kry, sou dit benodig word.

Daar is genoeg suurstofvoorraad by alle gesondheidsfasiliteite en die provinsie gebruik in hierdie stadium 60% van die algehele kapasiteit.

Vanaf 1 Augustus gaan die gesondheidsdepartement ook sy dienste en reaksie op nie-Covid-19-verwante dienste verskerp. Dit sluit in die bestuur van chroniese siektes asook MIV en tuberkulose en dienste vir vroue en kinders wat deur gemeenskapsgesondheidswerkers gelewer sal word, het Winde gesê.

Nie-lewensbedreigende chirurgie sal oor die volgende agt maande geleidelik hervat word en die provinsie se gesondheidsorgstelsel sal herstel na die prestasievlakke wat voor die Covid-19-pandemie gehandhaaf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Kan die slagspreuk vir die Wes-Kaap in die 2021 verkiesing wees : Die Wes-Kaap doen dit reg! Nou dat die perde mis die waaier in Gauteng en die Oos-Kaap geslaan het, sal ons sien hoe die ANC aangaan? Ek dink hulle gaan hulle bas sien. Vra vir die DA vir hulp man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.