Duisende kry infeksie in Gautengse hospitale

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kenny Eliason/Unsplash)

Altesame 7 457 pasiënte het verlede jaar in staatshospitale in Gauteng infeksies opgedoen, meestal weens swak infeksiebeheermaatreëls.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, Gautengse LUR vir gesondheid en welstand, het dié syfers in ʼn skriftelike antwoord op vrae van die DA in die Gautengse wetgewer bekend gemaak.

Nosokomiese infeksies, infeksies wat in hospitale opgedoen word, word dikwels veroorsaak deur organismes wat weerstandig teen antibiotika is.

Volgens Nkomo-Ralehoko is daar weeklikse en maandelikse toesigrekords oor hospitaalverworwe infeksies, maar weens die Covid-19-pandemie is geen data vir 2020 en 2021 ingesamel nie.

Altesame 7 457 (6,4%) uit 116 366 pasiënte het verlede jaar nosokomiese infeksies opgedoen, van wie 5 032 in dié hospitale:

  • Chris Hani Baragwanath-hospitaal: 1 542 infeksies
  • Steve Biko-hospitaal: 1 365 infeksies
  • Charlotte Maxeke-hospitaal: 1 157 infeksies
  • Helen Joseph-hospitaal: 613 infeksies
  • Kalafong-hospitaal: 337 infeksies
  • George Mukhari-hospitaal: 312 infeksies
  • Tembisa-hospitaal: 238 infeksies

Die nege streekhospitale was verantwoordelik vir 1 617 (22%) van alle hospitaalverworwe infeksies, wat wissel van 138 infeksies by die Pholosong-hospitaal tot 626 infeksies by die Leratong-hospitaal, wat meer as dubbel die naashoogste syfer van 255 infeksies by die Rahima Moosa-hospitaal is.

Onder die 12 kleiner distrikshospitale het die Kopanong- en Odi-hospitaal die hoogste aantal nosokomiale infeksies gehad: 194 en 176 infeksies onderskeidelik.

Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, blyk daar ʼn skerp styging in nosokomiese infeksies te wees aangesien daar slegs 975 sulke infeksies in 2014 aangemeld is. Die syfer is gegrond op ʼn vorige amptelike antwoord op vrae in die wetgewer.

Bloom sê dit kan moontlik ook aan verbeterde monitering toegeskryf word.

“Terwyl Chris Hani Baragwanath-hospitaal in 2014 altesame 376 nosokomiese infeksies gehad het, het dit verlede jaar tot 1 542 gestyg,” sê Bloom.

“Die jongste syfers dui op die behoefte aan streng infeksiebeheer en behoorlike higiëne om hospitaal-infeksies soveel as moontlik te verminder.”

Bloom verduidelik die mees algemene nosokomiese infeksie is CRE of CPE, wat karbapenem-weerstandige of karbapenemaas-produserende bakterieë is. Dit veroorsaak ʼn verskeidenheid infeksies, insluitend urienweginfeksie, wond-infeksie, gastro-enteritis, meningitis, septisemie en longontsteking.

Daar was altesame 1 038 ESBL-infeksies, wat bestand is teen penisillien, 980 gevalle van Acinetobacter baumannii MDR/XDR-infeksie, en 584 gevalle van Clostridioides difficile-infeksie, wat die dikderm infekteer en noodlottig kan wees.

“Die 468 gevalle van klebsiella-longontsteking is ook kommerwekkend; dit het die dood van babas in vorige uitbrekings veroorsaak.

“Die antibiotika-weerstandige infeksies is ook ’n groot kopseer vir dokters omdat dit moeilik is om te behandel, wat lei tot langer hospitaalverblyf en soms selfs die dood.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hannelize ·

Die hardseer agter hierdie storie is dat dit nie NET in die Staats Hospitale voorkom nie. Daar is ook baie gevalle in die Privaat Hospitale.

George ·

Privaat hospitale stel nie hulle sin bloot aan die publiek nie. Alhoewel dit baie minder is, gebeur dit steeds daar ook.

Chris ·

Van die studies het wel bevind dat die weerstandige bakterie ook in die private hospitale voorkom.

Eugene ·

Ek stel nie belang in syfers en getalle nie. Hospitale is vrot van siektes en ingeksies. Voor 1994, was alle hospitale skoon gewees. Na 1994 het alles verswak.

Zacharias Wilhelm ·

Ek het soortgelyke infeksie opgedoen in Maartmaand by Morningside Clinic in Sandton. Ek was 21 dae in die hospitaal.
So, dis nie net staatshospitale nie, dié “superbug” is in alle hospitale.

Miskruier ·

En ons weerstand is afgebreek deur gereelde gebruik van antibiotika.

Charles ·

Toe hospitale nie so toegebou was nie en groot vensters orals gehad het was dit bietjie beter. En natuurlik grotendeels toe die nurses college toe gegaan het vooraf.

Nettie ·

Algehele verval van als in die land. Dis skokkend, en hartseer, en meeste van ons het persoonlike ondervinding of ken iemand met wie dit gebeur het. Selfs in die privaathospitale wat maar dieselfde verpleegsters moet aanstel vir BEE getalle en wat nog.

Hedda ·

Higiëne in hospitale, privaat ingesluit, het erg agteruit gegaan. Daar word mos nie meer hande gewas of handskoene gedra nie.

Marcello ·

Infeksies word ook opgedoen in bekende privaat hospitale. ook. Ek weet van o.a. 2, die dame het ingegaan vir ‘n gebarsde blindederm, en was op die einde van die dag ‘n maand in die hospitaal, en die ander persoon het ingegaan van ‘n hartomlyning, en het ook septisemia opgedoen ( soos vorige persoon) en het ‘n koma verval, toe hy weer bykom moes hy leer loop, praat en skryf.

Hasie ·

By die Nasionale hospitaal in Bloemfontein word die lyke in sale op die vloer gelos ..Vullis lê oral neér gegooi …dit nadat pasiënte ditgeeet en gedrink het ..so nou wat sal anders verwag word ..

Chris ·

CRE (Carbapenem-Resistant Enterobacterales) en MRSA (Methicillin-Resistant S. aureus) was nooit eens oorweeg as ‘n bydraende faktor met die beweerde Covid sterftes nie. Volgens studies neem jou kanse eksponensieel toe om MRSA op te doen indien jy nog op ‘n vetilator is by dag 13. Vreemde wereld waarin ons leef.

Di ·

Kyk maar net na die toestand van die hospitale en alles maak sin dat DIT gebeur! Vuil hospitale en onbevoegde personeel is die rede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.