‘Ek’s eintlik hier,’ sê Raymond Ackerman ná gerugte van sy dood

Raymond Ackerman, voormalige baas van die Pick n Pay-winkelgroep. (Foto: Skermskoot uit video)

“Dis Maandag 7 November en ek is eintlik hier,” het die afgetrede sakeman Raymond Ackerman (91) Maandag in ʼn kort video gesê ná gerugte dat hy dood is.

Ackerman het die Pick n Pay-winkelgroep opgebou nadat hy vier winkels in die 1960’s by die stigter daarvan oorgekoop het, en was jare lank dié groep se voorsitter totdat hy ongeveer 10 jaar gelede afgetree het.

Fopnuus dat hy dood is, het Maandag die rondte op sosiale media gedoen, met verskeie gebruikers wat gevra het of dit waar is.

“Daar is ʼn gerug dat ek dood is wat tans oor die land heen die rondte doen. Soos julle kan sien, is dit heeltemal onwaar. Ek is fiks en gesond. Ek herstel van ʼn seer been, en dis omtrent al wat met my skort,” het Ackerman gesê waar hy voor ʼn boekrak sit, met die Cape Times voor hom.

“Ek wil almal vir hul wense bedank, wat ek eintlik geniet het om te hoor, en wat nie ná my dood eers aan my oorgedra is nie,” het hy met ʼn glimlag afgesluit.

Daar is vandag meer as 1 900 Pick n Pay-winkels landwyd. Ackerman se seun, Gareth, is tans voorsitter van die winkelgroep, wat steeds deur die familie beheer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.