Ekurhuleni het weer ANC-burgemeester

Nkosindiphile Xhakaza is Donderdag tot burgemeester verkies. (Foto: X)

Ekurhuleni het weer ʼn eerste burger. En hy is van die ANC.

Nkosindiphile Xhakaza, sameroeper van die ANC in Ekurhuleni, is Donderdag tydens ʼn raadsvergadering onbestrede tot uitvoerende burgemeester van die metro verkies.

Die raadsvergadering is egter vanoggend sowat drie uur lank vertraag terwyl die EFF en ANC geredekawel het oor wie die volgende burgemeester behoort te wees.

Die metro word deur die ANC in koalisie met die EFF regeer.

Die metro was byna twee weke burgemeesterloos nadat ʼn mosie van wantroue verlede maand in Sivuyile Ngodwana van die African Independent Congress geslaag het.

ʼn Burgemeester was veronderstel om tydens verlede week se raadsvergadering reeds verkies te word. Die raadsvergadering is egter toe op die nipper uitgestel.

Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, het vanoggend se raadsvergadering bygewoon.

“Vir die eerste keer word daar politieke volwassenheid getoon,” het Lesufi ná die verkiesing in ʼn onderhoud met die SAUK oor Xhakaza se aanstelling te sê gehad.

Lesufi sê dit is in die metro se beste belang om die party met die hoogste verteenwoordiging die leiding te laat neem.

Thembinkosi “TK” Nciza, provinsiale sekretaris van die ANC in die provinsie, het Xhakaza as ʼn sterk en senior leier bestempel. Xhakaza is ʼn voormalige burgemeesterskomiteelid vir finansies en ekonomiese ontwikkeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Simpatie aan julle in die Oos- Rand. Dis nag.

Kokerboom ·

Ek stem Republikein. Dis nag waar ANC hul kloue inkry
Politici bly ‘n nare realiteit!

Witbaard ·

Dis wat gaan gebeur as ons nie almal in die verkiesing gaan stem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.