Entstoftekorte kan krisis vir veebedryf veroorsaak

(Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die openbaredeelnameplatform DearSA maan Suid-Afrikaners om hul sê te sê oor die dreigende krisis wat veroorsaak word deur ʼn versuim om te voldoen aan die aanvraag na entstowwe vir vee.

Meeste entstowwe wat vee in Suid-Afrika teen siektes moet beskerm, word by die staatsbeheerde onderneming Onderstepoort Biological Products (OBP) vervaardig.

Dr. Andile Dyasi, voormalige uitvoerende hoof, is in 2020 afgedank weens wangedrag en swak bestuur. Drie jaar later sukkel ʼn rits boere, perde-eienaars en veeboere nog steeds om voldoende hoeveelhede entstof aan te skaf, sê DearSA in ʼn verklaring.

Volgens die OBP word die tekort toegeskryf aan stakings deur die personeel, beurtkrag en ʼn meganiese fout in een van die masjiene wat gebruik word om die entstof te vervaardig.

“Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en OBP versuim om die probleem op te los, wat nog te sê van verbetering aan nasionale dierebioveiligheid,” sê Gideon Joubert, uitvoerende hoof van DearSA.

“Die tekorte kan ʼn negatiewe impak hê op die voedselketting (vleis en suiwel) en die welstand van die betrokke diere. Dit kan ook tot ʼn toename lei in die verspreiding van siektes. Sonder enige bystand of verligtingsprogramme sal boere en diere-eienaars verskeie wetlike vereistes noodgedwonge moet oortree.”

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê die landboubedryf sukkel ook om betyds entstowwe te bekom.

“Die staat het tans ʼn monopolie op die verskaffing van entstowwe, maar die regering versuim om voldoende voorraad betyds beskikbaar te stel,” sê Wilken. “Boere kan nie voldoen aan hul entstofprogramme nie.”

Wilken meen die enigste oplossing is dat die privaat sektor toegelaat moet word om noodsaaklike entstowwe te vervaardig om ʼn krisis te voorkom. “Dit is nie in nasionale belang dat die staat toevertrou moet word met ʼn monopolie oor die land se dieregesondheid nie. Laboratoriums in die privaat sektor het reeds voldoende kapasiteit en die nodige kennis en kan baie vinnig die entstowwe vervaardig.”

Die perdegemeenskap het ook dringend hulp nodig van die departement en versoek dat wetgewing verslap word sodat hul verskaffers entstowwe kan vervaardig. Volgens een bron het minstens 100 perde reeds in Mthatha in die Oos-Kaap gevrek. Dit is egter nie beperk tot die streek nie en perde-eienaars en versekeraars sukkel om voor te bly met die toenemende mediese uitgawes.

“Dit is nou tyd vir minister Thokozile Didiza om drastiese stappe te doen om dié landboukrisis te takel,” voeg Joubert by.

DearSA sê Suid-Afrikaners kan op dié blad hul insette lewer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.