Eskom-hoë gou weer in die hof oor belastingbedrog

Die beskuldigdes tydens ‘n vorige hofverskyning in die Kusile-korrupsiesaak (v.l.n.r. France Hlakudi, Antonio Trindade, Abram Masango en Maphoko Kgoemoeswana (Foto: NVG-OD)

France Hlakudi, ʼn voormalige Eskom-kontraktebestuurder, sal in die komende week weer in die hof verskyn in verband met belastingbedrog.

Hlakudi staan tereg op aanklag van belastingontduiking van R30 miljoen.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat, sê Hlakudi se saak kom weer op 13 Februarie en 16 Februarie in die hof voor.

“Die saak is in Februarie 2022 aangehoor. Dit is opgeskort nadat Hlakudi regsverteenwoordiging versoek het toe sy vorige prokureurs aan die saak onttrek het. Hlakudi het in November 2022 weer in die hof verskyn vir regshulp.”

Hlakudi se belastingontduiking hou verband met sy persoonlike opgawes en dié van sy maatskappye, Hlakudi Translation and Interpretation cc, Coxinel Chicken (Pty)Ltd, en Bon Services Telcom cc. Dit is vir geld wat tussen 2015 en 2018 ontvang is.

Hlakudi word ook in ʼn afsonderlike saak vervolg op aanklag van onder meer geldwassery, bedrog, korrupsie asook dat hulle ongemagtigde betalings gedoen en ontvang het.

Sy medebeskuldigdes in dié verband is Abram Masango, ʼn voormalige uitvoerende groephoof by Eskom se kapitaalafdeling, Maphoko Kgomoeswana, ʼn sakeman, asook Antonio Trindade, uitvoerende hoof van Tubular Construction. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die misdade tussen 2014 en 2017 gepleeg het. Sowat R745 miljoen is by die ondersoek betrokke. Die ondersoek hou verband met bedrieglike betalings wat aan subkontrakteurs by die Kusile-kragsentrale gedoen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.