Eskom kry waarskynlik nié miljarde vir ekstra diesel – minister

(Argieffoto)

Eskom, wat Vrydagmiddag aangekondig het dat fase 2-beurtkrag tot verdere kennisgewing sal voortduur, se versoek aan die nasionale tesourie vir miljarde rand om diesel te koop, sal na alle waarskynlikheid afgekeur word.

“Ons het dit nie,” het Enoch Godongwana, minister van finansies, aan Bloomberg gesê oor Eskom se versoek vir R19,5 miljard.

Eskom gebruik sy oopsiklus-gasturbines – wat diesel gebruik – om beurtkragfases te verlaag wanneer opwekkingskapasiteit onder druk is. Ses opwekkingseenhede by vyf kragsentrales het egter oor die afgelope 24 uur die gees gegee. Die inwerkingstelling van drie opwekkingseenhede is vertraag, hoewel ʼn eenheid elk by Kriel en Matla sedertdien weer aanlyn gebring is.

Weens onbeplande instandhoudingswerk is 16 708 MW van kapasiteit tans nie beskikbaar nie, het die kragvoorsiener vroeër vanmiddag gesê.

Eskom het verlede maand gesê hy het nie meer geld vir diesel nie. Die kragvoorsiener het vanjaar reeds meer as R12 miljard aan diesel bestee, veel meer as sy aanvanklike begroting van R6,1 miljard vir die ganse boekjaar.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het daarna egter gesê die departement sal saam met die nasionale tesourie en Eskom werk om geld te vind om dieselvoorraad aan te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.