ʼn Vermeende dwelmsmokkelaar wat glo deur Facebook gewerf is, is Dinsdag by die Beitburg-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe betrap met 4 200 heroïenkapsules.
Sandile Memela, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê doeanebeamptes het die vrou voorgekeer wat vanaf die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gereis het. Die heroïenkapsules is saam met 10 000 ander pille met verskillende handelsname in haar bagasie gevind.
“Die vrou het Frans gepraat, maar gelukkig kon een van die SAID-beamptes as tolk optree. Die vrou het beweer sy is deur twee ander vroue op Facebook gewerf om die pille na Suid-Afrika te bring. Sy beweer sy het nie die vroue geken nie en hulle het deur die sosialemedia-platform met haar kontak gemaak. In ruil daarvoor sou sy glo winsdeling van die dwelmverkope ontvang,” het Memela gesê.
Die beamptes het beslag gelê op die heroïen ter waarde van ongeveer R314 000 en die vrou is deur die polisie in hegtenis geneem. Daar is ook op die ander pille beslag gelê en aan die hawegesondheidsowerheid oorhandig.
Die deleris net soos die steler. Kan nie blaam op iemand anders pak.
Drugs het baie lewens verwoes.