Familie soek al maande na vermiste 68-jarige

Jan Grobler (68) van Vanderbijlpark word sedert Mei vanjaar vermis. (Foto: Verskaf)

ʼn 68-jarige man van Vanderbijlpark in Gauteng word al sedert 2 Mei vanjaar vermis, en sy geliefdes is rasend van bekommernis.

Jan Grobler, wat uitdagings met sy geestesgesondheid het, het glo van die Busy Bees- tehuis vir bejaardes en mense met gestremdhede weggeloop waar hy sedert Junie verlede jaar ʼn inwoner is. Die familie het die afgelope drie weke nuwe leidrade ontvang, waaronder dat Grobler in Klerksdorp in Noordwes en in Sandton in Gauteng gewaar is. Die inligting kon egter nog nie bevestig word nie en sy familie sê dat hy na hul wete glad nie vriende of kennisse in ander gebiede het nie.

“Sy familie, ons, is sy alles. Ek kan nie verstaan dat hy net so kon wegraak nie,” het Trudie Beyleveld, Grobler se suster, Maandag aan Maroela Media gesê.

“Ek is vol vertroue dat hy dalk êrens ronddwaal. Ek glo nie hy is dood nie. Ek wil dit nie glo nie. Ek glo hy leef.”

Beyleveld sê Grobler vertrou mense baie maklik en dat hy dalk in ʼn voertuig kon klim wat hom iewers afgelaai het.

ʼn Kennis van die familie het Grobler Dinsdagaand 3 Mei glo in Scottstraat in Vanderbijlpark – waar hy vantevore saam met sy ouers gewoon het – gesien stap en die familie ingelig. Dit was ongeveer 20:50 en sowat 6 km van die tehuis waar hy gewoon het. Die familie het aanvanklik nie gedink dat dit Grobler kan wees nie, aangesien dit laat die aand was en hy veronderstel was om by die tehuis te wees. Hulle het teen dié tyd nog nie geweet dat hy al sedert die Maandag weg is nie.

Jan Grobler (68) van Vanderbijlpark word sedert Mei vanjaar vermis. Dié is die laaste foto wat sy suster op die dag van sy verdwyning van hom ontvang het. (Foto: Verskaf)

“Ek was die heel aand onrustig en het die volgende dag na die versorgingsoord gegaan.

“Ek het gesê ek wil met Jan praat, maar die veiligheidswag – of eerder die persoon wat daar waargeneem het – het toe gesê Jan is nie hier nie, hy is weg. Ek wou toe met een van die mense praat wat daar werk, maar die persoon het gesê hulle is juis in ʼn vergadering oor my broer. Hy het ook vir my gesê my broer is al van die Maandag (2 Mei) af weg.”

Beyleveld sê die tehuis het nog Maandagoggend ʼn foto van Grobler aan haar gestuur met die onderskrif “goeiemôre”. Sy vermoed dat hy deur die dag of later daardie aand verdwyn het.

“Ons het gesoek en gesoek, maar hy was weg.

“Ons het nou al so gery. Ons was ook in Parys, want die polisie het gesê volgens die versorgingsoord het my broer van iemand in Parys gepraat. Maar ons ken niemand in Parys nie. Ons het al drie keer soontoe gery en pamflette versprei.”

Sy verstaan nou nog nie waarom die tehuis hulle nie dadelik in kennis gestel het nie.

Grobler het nie ʼn selfoon gehad nie, en het na bewering geen ander besittings met hom saamgeneem nie. Hy het ook nie sy identiteitsdokument by hom nie.

Grobler is enkellopend en het nie kinders nie, maar was nog altyd baie na aan sy familie – veral sy susters. Hy het gereeld by hulle gekuier – toe hy nog alleen gewoon het, en toe hy in die tehuis was.

Grobler het destyds by ʼn staalfabriek op die dorp gewerk waar hy algemene take verrig het, en het ten tyde van sy verdwyning reeds afgetree. Beyleveld sê Grobler het in 2019 begin vreemd optree, en sou dan elke nou en dan wegloop. Dit was ook asof hy sekere dinge nie meer kon begryp nie – onder meer die reëls en regulasies van die Covid-19-inperking.

Hy het rondgeloop wanneer hy nie moet nie, en ook nie onthou om ʼn masker te dra nie. Hy sou dikwels na Beyleveld en haar man se huis gaan, wat sowat 200 m van die tehuis geleë is, en het selfs al oor die heining geklim.

Die familie hoop om binnekort antwoorde te kry.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie en die tehuis gestuur, en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Baie sterkte aan die familie., my hart gaan uit na jul. Dit gaan nog steeds my verstand te bowe hoe die personeel van so ‘n instansie mense eenvoudig net aan hul eie lot oorlaat. Ongelukkig is die toesig en versorging nie wat dit 30 jaar terug was nie. Mense wat nie so ‘n familielid het nie, het geen idee waardeur die familie gaan wanneer so ‘n persoon wegraak nie. Hy kan nie vir homself sorg nie en ander gee nie ‘n duit om, as hul sien die persoon het hulp nodig om so ‘n persoon by te staan en sy familie te soek of na ‘n instansie te neem wat tot hulp kan wees nie.

Nettie ·

Dis baie hartseer. Ek onthou toe dit voorheen in die nuus was. Dis net ontstellend om te lees dat hy nog soeke is. Baie, baie, baie sterkte aan julle almal. Mag God hom veilig terug lei na julle toe. Ons sal vir julle en hom bid.

Veronika ·

Okay hoekom het die tehuis jul nie dadelik in kennis gestel nie en (jammer) maar hoekom het jul nie reageer toe jul die inligting kry dag hy op straat loop nie…….

Leeu ·

Sy suster het die oproep laat in die aand gekry en is seker ook bejaard en wou nie in die nag ry nie omdat dit gevaarlik is… sy sê wel sy het dadelik die volgende oggend na die tehuis gegaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.