Finansiële diensteverskaffer moet opdok ná kuberbedrog

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die Johannesburgse hooggeregshof het ʼn finansiëledienstemaatskappy beveel om ʼn kliënt meer as R800 000 plus rente te betaal nadat kuberkrakers die maatskappy en hul kliënt uit sy geld bedrieg het.

Regter Denise Fisher het in die guns van Jan Jacobus Gerber beslis nadat hy PSG Wealth Financial Planning gedagvaar het vir die verlies wat hy gely het weens die onwettige elektroniese oorplasing van geld wat vir sy aftrede bedoel was.

Die geld was by PSG Wealth Financial Planning belê toe kuberkrakers deur middel van ʼn e-pos hul hande op die geld gekry het.

Fisher het in haar uitspraak gesê dit is alom bekend dat sake per e-pos gedoen word. Dit gebeur ál meer dat kuberkrakers toegang tot daardie e-posse verkry en só geld onderskep.

“Die vraag is wie die verliese moet dra,” het sy gesê.

Gerber het ten tyde van die kuberaanval ʼn aandeleportefeulje by PSG Wealth gehad wat vir meer as ʼn dekade lank deur Jonathan Fisher, ʼn verteenwoordiger van PSG, bestuur is. Dié portefeulje het uit beleggings van altesaam R855 413 soos op September 2019 bestaan en kon op Gerber se versoek gelikwideer en uitbetaal word.

Die hof het toe gehoor dat Gerber en Fisher min kontak gehad het en die enigste kommunikasie tussen die twee die maandelikse staat was wat Fisher per e-pos aan Gerber gestuur het.

In Oktober 2019 het Fisher ʼn “ietwat ongewone versoek” per e-pos, glo van Gerber, ontvang. Gerber het in dié e-pos gevra dat R250 000 gelikwideer word. Die e-pos het ook besonderhede van ʼn nuwe bankrekening by FNB verskaf.

Fisher het op die e-pos gereageer en gevra vir bevestiging van die nuwe rekening. Hy het daarna ʼn e-pos, glo vanaf Gerber,  met ʼn brief, oënskynlik van FNB, ontvang. Die brief het op die oog af ʼn amptelike bankstempel gehad en weerspieël dat die rekening in 2002 geopen is.

PSG se takke word op ʼn franchise-stelsel bestuur en word as deel van daardie ooreenkoms toegang verleen tot ʼn sentrale kliëntediens wat bankrekeningbesonderhede kan verifieer.

Die FNB-rekeningbesonderhede is daarom vir verifikasie gestuur. Fisher kon toe deur middel van ʼn verifikasieverslag vasstel dat die identiteit wat aan die FNB-rekening geheg is nié met Gerber se besonderhede ooreenstem nie.

Die verslag het boonop getoon dat die rekening in werklikheid net minder as drie maande vantevore oopgemaak is. Die telefoonnommer en e-posadres was ook nie geldig nie.

Volgens Fisher (van PSG) is hierdie verifikasieverslae egter dikwels onbetroubaar.

Sy persoonlike assistent Jocelyn van Stavel het daarom ʼn e-pos aan Gerber gestuur om te bevestig dat dit wel sy rekening is.

“Dit is nie verbasend nie dat die reaksie op die gekaapte e-pos gelui het dat die betaling in die bedrieglike rekening gemaak moet word,” het regter Fisher in haar uitspraak gesê.

Toe Van Stavel ʼn “hoflikheidsoproep” na Gerber maak om hom te laat weet die geld is uitbetaal,  het Gerber geantwoord “goed so”. Gerber was egter in daardie stadium agter die stuur van sy motor en het nie geweet waarna sy verwys nie.

ʼn Tweede e-pos van die kuberkraker het kort daarna gevolg waarin hy of sy vir meer geld gevra het. Die geld is uitbetaal en Gerber se belegging is eindelik leeggetap.

Die kuberkraker het Van Stavel toe per e-pos in kennis gestel dat Gerber se vrou ook ʼn beleggingsrekening het en gevra dat R400 000 van die belegging uitbetaal word.

Dit is toe dat Van Stavel onraad vermoed. “Iets het nie reg gelyk nie,” het sy later aan die hof verduidelik.

Fisher het toe sy kliënte gekontak, wat albei bevestig het dat hulle nie gevra het om enige fondse te onttrek nie.

ʼn Ondersoek het toe aan die lig gebring dat Gerber se e-pos gekuberkraak is en dat al die e-posse na en van PSG na ʼn aparte lêer herlei is wat nie in sy inkassie of uitkassie verskyn het nie.

PSG het aangevoer dat hoewel dit hul plig is om Gerber se geld te beskerm, die finansiëledienstemaatskappy ingevolge ʼn “stilswyende bepaling” in hul ooreenkoms met Gerber nie aanspreeklik gehou kan word vir verlies onder omstandighede waarin sy rekenaarstelsel gekaap is nie.

Maar regter Fisher het gesê om so ʼn term in te voer sal teenintuïtief wees. “Die beskerming teen tegnologiese bedrog sou betekenisloos wees as die kliënt die verpligting moes aanvaar om inbraak te voorkom.

“PSG word immers goed betaal vir die dienste wat gelewer word, insluitend die verskaffing van bedrogbeskerming,” het regter Fisher daarop gewys.

Regter Fisher het ook daarop gewys dat geen bewyse bestaan dat Gerber versuim het om sy e-posstelsel teen kuberkrakers te beskerm nie. Hy het getuig dat sy stelsel met ʼn wagwoord beskerm is en dat hy ʼn effektiewe virusbeskerming geïnstalleer het.

Regter Fisher het gesê die kontrakte bepaal dat instruksies per e-pos gegee moet word, wat beteken dat PSG waarskynlik die risiko aanvaar het om van hierdie kommunikasiestelsel gebruik te maak.

Regter Fisher het ook daarop gewys dat ʼn “hoflikheidsoproep” aan Gerber gemaak is en dat dié oproep nie gemaak is om te bevestig dat die geld uitbetaal moet word nie.

Volgens regter Fisher kon PSG nie bewys dat hy sy kontraktuele verpligtinge nagekom het om Gerber teen kubermisdaad te beskerm nie.

Sy het gevolglik beveel dat die maatskappy R811 488,98 plus rente aan Gerber betaal. PSG is ook gelas om die koste van die hofaansoek te dra.

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn en word met vergunning hier geplaas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

capie ·

Dit raak tyd dat die ontwikkelaar van die rekenaar stelsel wat jy gekoop het aangevat word vir onveiligheid.

houopkruip ·

…….. ek raak al hoe meer bekommerd oor finansiele advisieurs …… hulle skep enorme fooie en verontskuldig hulself al meer van byna alle swak opbrengste.
Fat cats.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.