Fopnuus en feite: aanlyn gevare wink veral in kiesjaar

Kenners sê kiesers sal moet leer hoe om feite van fopnuus te onderskei. (Foto: Jonathan Raa/NurPhoto/AFP)

Lede van die media, ander instellings en Jan Publiek sal toenemend moet waak teen ʼn vlaag waninligting wat versprei word – veral in ʼn verkiesingsjaar.

Navorsers van die Universiteit van Pretoria en die WNNR het kragte saamgesnoer om mense teen die gevaar van fopnuus op aanlyn webwerwe en sosialemediaplatforms te waarsku.

“Die verspreiding van waninligting het ʼn uitwerking op die gedagtes en gevoelens van aanlyn gebruikers,” sê prof. Vukosi Marivate, verbonde aan die UP se navorsingsgroep oor datawetenskap vir maatskaplike impak.

Marivate sê die gebruik van datawetenskap is egter ʼn belangrike instrument om die aanlyn vlaag teen te werk.

“Die grootste uitdaging wat ons in die gesig staar, is toegang tot data. Al hierdie data word op sosialemediaplatforms gehou en met veranderings aan platforms soos X [voorheen Twitter], maak verminderde toegang tot data navorsing oor waninligting besonder moeilik vir navorsers. Sonder toegang tot hierdie data, kan ons nie die inligting daarbuite ontleed nie.”

Meta, eienaar van die gewilde Facebook-platform, het pas aangekondig dat hy CrowdTangle, ʼn instrument om aanlyn fopnuus te monitor, gaan skrap. Kenners het dit as ʼn reuseterugslag bestempel, veral met verkiesings wat vanjaar in verskeie lande gehou word.

Die tegno-reus het aangekondig dat CrowdTangle vanaf 14 Augustus nie meer beskikbaar gaan wees nie. Dit gaan vervang word met ʼn nuwe funksionaliteit, maar een wat volgens navorsers nie dieselfde doeltreffendheid het nie en waartoe nuusorganisasies ook nie toegang gaan hê nie.

ʼn Program soos CrowdTangle word al jare lank gebruik en bied aan navorsers en verslaggewers intydse inligting oor die verspreiding van samesweringsteorieë en haatspraak op Meta-platforms (insluitend Facebook en Instagram).

Die skrap van CrowdTangle strook met groot tegnologiemaatskappye se neiging om deursigtigheid en veiligheidsmaatreëls te verminder. Dit kon boonop kwalik op ʼn slegter tyd kom; tientalle lande gaan vanjaar na die stembus en dit is tipies ʼn gulde geleentheid vir mense om vals inligting te versprei.

“Dit is ʼn ernstige stap agteruit vir die deursigtigheid van sosialemediaplatforms,” het Melanie Smith, direkteur van navorsing by die Instituut vir Strategiese Dialoog, aan AFP gesê.

CrowdTangle is byvoorbeeld gebruik om navorsers bedag te maak op bedrywighede soos buitelandse inmenging, aanlyn teistering en aanhitsing tot geweld. Meta, wat CrowdTangle in 2016 gekoop het, het self al gesê dit het byvoorbeeld gehelp om onakkurate stemtye wat aanlyn gedeel is, bloot te lê.

Terug op tuisbodem waarsku Marivate ook dat sosialemediabeïnvloeders en mense wat kennis verkeerd aanwend, maniere gevind het om openbare persepsies te bewimpel deur sekere onderwerpe só aan te bied dat dit “hulle agendas dryf”.

Hy het die publiek hierteen gewaarsku en sê optrede soos dié is reeds in Suid-Afrika se 2021- munisipale verkiesing opgemerk.

Navorsers het ook ʼn groot behoefte aan beleid en regulasies wat hulle toegang sal gee tot sosialemediadata, sê Marivate. Die outomatiese moderering van inhoud, die gebruik van plaaslike tale en koderingsveranderings, bemoeilik die taak verder.

“Dit beteken die stelsel vir die moderering van inhoud geld gewoonlik vir Engelse inhoud; in Suid-Afrika, met sy 12 amptelike tale, kan die stelsels nie bepaal of die inhoud waninligting bevat of skadelik is nie,” lui ʼn gesamentlike verklaring van die UP en WNNR.

Hy sê ook sou die Onafhanklike Verkiesingskommissie enige verkiesingsreëls aanlyn oortree, dit baie moeilik sal wees om te monitor omdat daar beperkte direkte toegang of monsterdata van verskillende platforms beskikbaar is.

Deel van Marivate se navorsing fokus juis daarop om datagedrewe benaderings te gebruik wat die publiek, instellings en die media help om fopnuus en kwaadwillige waninligting, wat beduidende bedreigings vir maatskaplike kohesie en vertroue inhou, te neutraliseer.

Dr. Zubeida Dawood, die WNNR se navorsingsleier vir kuberveiligheid, het ook die potensiële uitwerking van waninligting – veral tydens ʼn verkiesingsjaar – verduidelik.

“Om ons kiesers te bemagtig, moet ons hulle leer om waaksaam te wees en feite van fopnuus te onderskei.

“Ons moet bewus wees van algemene taktieke, soos gedokterde oudioboodskappe. Dit gaan mense se vermoë om waninligting te identifiseer en te verwerp, verbeter,” sê Dawood.

Sy sê ʼn samewerkingspoging tussen die regering, tegnologiemaatskappye, hoëropleidingsinstellings en die publiek is nodig om ʼn veerkragtige verdedigingslinie teen waninligting te skep.

Die UP en die WNNR se Sentrum vir Inligting en Kubersekuriteit werk reeds saam aan ʼn projek om vals nuus tydens die verkiesing te bespeur, sê Dawood.

“Dit behels die gebruik van kunsmatige intelligensie en masjienleer met gevorderde algoritmes om patrone te ontleed en fopnuus te identifiseer. Dit gaan fokus op voortgesette leer om aan te pas by veranderende waninligtingstaktieke.”

Hoe bepaal jy wanneer inligting betroubaar of vals is? Kenners gee dié raad:

  • Kyk na die bron en URL
  • Soek inligting oor die skrywer
  • Bevestig die inligting op ander webwerwe
  • Gaan na wanneer die inligting gepubliseer is
  • Wees bedag op grammatika- en spelfoute
  • Gebruik aanlyn webwerwe soos snopes.com om die artikel na te gaan
  • Vra ʼn tegno-slim vriend om ook die inhoud op te soek.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Ek glo daar gaan weer hoogskaals gelieg en bedrieg word …..veral vir naiewe mense…hartseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.