Forensiese ondersoek na Knysna-munisipaliteit gevra

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Faith Muthambi, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake, het vandeesweek die Wes-Kaapse wetgewer versoek om ’n forensiese ondersoek te doen na bewerings van wanadministrasie en korrupsie teen die Knysna- plaaslike munisipaliteit.

Dít volg nadat die komitee vandeesweek gedurende ʼn inligtingsessie van ʼn versoekskrif te hore gekom het waarin gemeenskapslede ʼn forensiese ondersoek na dié beweerde aktiwiteite by die Knysna- plaaslike munisipaliteit aanvra.

Talle beweerde ongerymdhede by die munisipaliteit is onlangs uitgewys, waaronder watermeters wat glo in die dorp geïnstalleer is waarvoor die munisipaliteit nie begroot het nie, het die komitee Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Luidens die verklaring het eerwaarde Ralph Stander, die leier van die organisasie Knysna Unite, Woensdag gedurende die betrokke inligtingsessie aan die komitee gesê dat ongeveer 4 000 voorafbetaalde watermeters in Knysna se swart gebiede geïnstalleer is waarvoor daar nie begroot is nie.

Volgens Stander was daar boonop geen amptelike tender vir dié watermeterprojek nie. Dit het Knysna Unite aangespoor om ʼn forensiese ondersoek na die bewerings aan te vra, het Stander verduidelik.

Luidens die komitee se verklaring het die nuut aangestelde burgemeester van die Knysna-munisipaliteit, Elrick van Aswegen, gesê dat altesaam R32 miljoen bestee is aan die installering en aankoop van 7 500 voorafbetaalde meters waarvan die munisipaliteit 6 995 meters ontvang het.

Argieffoto ter illustrasie van Knysna. (Foto: Pixabay)

Volgens Van Aswegen is 5 000 van die meters in nege van die 11 munisipale wyke geaktiveer, lui die verklaring.

“Die komitee het ook gehoor dat die munisipaliteit ʼn politieke en administratiewe krisis tussen Januarie 2018 en Mei vanjaar beleef het. Van Aswegen het gesê dat die pos van die munisipale bestuurder gedurende daardie tydperk op ʼn waarnemende grondslag gevul is en dat daar ernstige onstabiliteit in die munisipaliteit is,” lui die verklaring.

Maroela Media het verlede maand berig binnegevegte op plaaslike regeringsvlak het daartoe gelei dat die munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, dr. Michelle Gratz, bedank het. Sy het ná haar bedanking gevra dat die munisipaliteit deur die Wes-Kaapse provinsiale regering onder administrasie geplaas word.

Mbulelo Memani, Knysna-munisipaliteit se hoof‑ finansiële beampte, en Peter Myers, ʼn DA-raadslid, het terselfdertyd bedank.

Luidens die verklaring het Van Aswegen boonop gesê dat die munisipaliteit geld uit sy beleggings gebruik om sy personeel te betaal. Volgens die komitee het Van Aswegen onthul dat die munisipaliteit uitdagings met dienslewering beleef weens die gebrek aan menslike en finansiële hulpbronne.

Van Aswegen het glo ook gesê dat die munisipale komitee vir openbare rekenings daarin versuim om die munisipale bestuur aanspreeklik te hou vir die swak bestuur van die munisipaliteit se finansiële hulpbronne.

Muthambi vra nou dat die departement teen volgende kwartaal aan die komitee verslag lewer oor die stappe wat gedoen is om die skuldiges verantwoordbaar te hou vir die “gemors” waarin die munisipaliteit hom tans bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.