[Foto’s] Man, hondjie sterf in huisbrand

Huisbrand in Marble Hall Foto: Life24

Buiten ʼn Bybel is alles in ʼn gesinshuis verwoes toe daar Dinsdagoggend ʼn brand uitgebreek en dit die lewens van Manie van der Westhuizen (72) en Vlooi, die miniatuur-dobermann-pinscher, geëis het.

Mercia Blake, woordvoerder van Life 24, het aan Maroela Media gesê die ambulansdienste is 10:41 na die huis in Mopaniestraat in Marble Hall, Limpopo, ontbied.

“Ons was nog op pad na die huis, toe ons die dik, swart wolke in die lug sien opstoot,” het Blake gesê. “Met ons aankoms by die huis het oom Manie buite die huis gelê. Hy sukkel om te loop en ons vermoed hy moes uit die brandende huis na buite gekruip het.”

Van der Westhuizen, Vlooi en ʼn sewejarige seun, Alex, was alleen by die huis toe die brand ontstaan het. Van der Westhuizen se bure het hulp ontbied nadat Alex daarin kon slaag om uit die vlammehel te ontsnap.

Paramedici het onverpoosd probeer om Van der Westhuizen se lewe te red, maar dit was tevergeefs en hy is op die toneel dood aan rookinaseming en brandwonde. Alex is ongedeerd, maar is vir skok behandel.

“Ons weet glad nie wat die oorsaak van die brand was nie. Die polisie en brandweer is besig om ondersoek in te stel. Soos wat ons van klein Alex verstaan, het oom Manie op die bank geslaap toe die brand uitgebreek het. Alex het dadelik uit die huis gehardloop om hulp by die bure te ontbied, maar daai brand moes baie vinnig versprei het.”

Blake verduidelik dat Van der Westhuizen, ʼn pensioentrekker, die huis by sy jonger broer, Flip van der Westhuizen (61), gekoop het. Flip sou ʼn ruk daar aanbly totdat hy by sy werk aftree. Van der Westhuizen se vriendin, Cynthia Crouse (55), asook Crouse se dogter, dié se man en hul twee kinders (Alex en sy suster), woon saam in die huis wat nou heeltemal verwoes is.

“Dit het sowat ʼn uur en half geduur vir die brandweer om die brand onder bedwang te bring. Alex het vir ons gesê sy hondjie is in die huis, maar dit was te gevaarlik om tydens die brand in die huis in te gaan. Die brandweerhoof het later op die lewelose hondjie afgekom. Die tongetjie was pers, wat ʼn aanduiding is sy is dood van rookinaseming.”

Crouse, haar dogter en dié se 12-jarige dogter (Alex se suster) was vinnig dorp toe toe die brand uitgebreek het. Flip was by die werk. “Klein Alex is in nou veilig in sy ouers se sorg. Hulle het hom met liefde en vreugde ontvang en was oorstelp van vreugde dat hy veilig is.”

Blake het gesê Life 24 en die gemeenskap staan die gesin by deur kospakkies, klere en meubels vir hulle in te samel, asook verblyf vir hulle te reël. Donasies kan by Life 24 se kantoor in Ficusstraat 791, Marble Hall, afgelaai word.

“Die brand het in ‘n kamer ontstaan. Alles is verwoes behalwe ʼn Bybel. Die Bybel het oopgestaan by Jeremia 42.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Poppie ·

Ek stem saam Sophia. Hier by ons het n vrou dood gebrand in haar huis en haar bybel het ook nie gebrand nie. Lees Jeremia 42. God het n wonderlikke boodskap vir ons daar. Alles gebeur met n doel. Hierdie boodskap in die oom se Bybel is n antwoord vir ons volk. Ons moet almal bly bid. Dinge gaan verander in hierdie land, want GOD REGEER!.

Ilse ·

Gaan lees Jeremia 42. Baie interesant. God se woord sal nooit brand en nooit vergaan.

SARIE VAN HEERDEN ·

Die brandtragedie het my laat dink aan ook ons troeteldiere. Nie net vir brand nie maar ook ander probleme by ons huise. Ek het ‘n kennisgewing by my huis aangebring waar kennis gegee word dat daar in hierdie huis ‘n hondjie, ‘n kat en in die voortuin ‘n groot skilpad is waana omgesien en opgepas moet word. Mnse moet weet daar is troeteldiere en wat hul is.

amvi ·

Hondjie moes kon uitkom. Hoe kan mense diere so binne toemaak. Wat van toilet toe gaan?

Alida ·

Ek hoop hulle stel behoorlik ondersoek. Dit het n lewe gekos. Hy het op n bank by die deur gele. N paar tree hoe kon hy nie uit kom nie. Die hondjie kon nie uit. Die brand het in die agterste kamer begin. Die kragboks kyk daar. Het hulle hom en die hondjie toe gesluit. So baie vrae. N vreeslike manier om dood te gaan

Alida vd Westhuizen ·

Ek hoop hulle stel behoorlik ondersoek. Dit het n lewe gekos. Hy het op n bank by die deur gele. N paar tree hoe kon hy nie uit kom nie. Die hondjie kon nie uit. Die brand het in die agterste kamer begin. Die kragboks kyk daar. Het hulle hom en die hondjie toe gesluit. So baie vrae. N vreeslike manier om dood te gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.