Gautengse adjunkspeaker in hof oor aanranding

Sers. Lizzy Mojapelo, ’n beampte van die polisie se beskerming-en-veiligheidsdienste, was boonop swanger toe die beweerde aanranding plaasgevind het. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die adjunkspeaker van die Gautengse wetgewer, Vuyo Mhlakaza-Manamela, sal na verwagting Donderdag in die Johannesburgse landdroshof op aanklagte van aanranding en crimen injuria verskyn.

Die politikus word daarvan beskuldig dat sy sers. Lizzy Mojapelo, ’n beampte verbonde aan die polisie se beskerming- en veiligheidsdienste, in Februarie 2020 aangeval het. Dit sal haar eerste hofverskyning wees nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) einde Junie aangekondig dat die staat Mhlakaza-Manamela wel gaan vervolg.

Die besluit is geneem skaars twee weke nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid – wat deur Mojapelo genader is – aan die NVG oor die saak geskryf het.

Die NVG het aanvanklik geweier om te vervolg en die saak is verlede jaar teruggetrek nadat senior aanklaers glo aan Mojapelo gesê het dat dit moeilik sal wees om te vervolg omdat die verdagte ’n baie hoëprofielpersoon is.

Die privaatvervolgingseenheid het namens Mojapelo vertoë aan die NVG gerig en in Junie het die Gautengse direkteur van openbare vervolging die eenheid ingelig dat hy die vroeëre besluit hersien het en die saak teen Mhlakaza-Manamela weer op die rol sal plaas.

Die beweerde aanranding het destyds by die huis van Mhlakaza-Manamela en haar man, Bhuti Manamela, adjunkminister van hoër onderwys, plaasgevind. Mojapelo beweer dat die verdagte, in ’n dronk woedebui, haar erg aangerand het. Sy sê verder dat haar seniors in die polisie haar nie wou help om ’n saak aanhangig te maak nie, maar eerder alles in hul vermoë gedoen het om die pogings te ontwrig.

’n Mediese ondersoek het bevestig dat Mojapelo veelvuldige beserings opgedoen het en dat sy destyds 11 weke swanger was. Sy het vaginale bloeding opgedoen en moes vrugbaarheidsbehandeling ontvang om te verseker dat haar swangerskap nie beëindig word nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vroeër gesê dat Mojapelo, “as ’n ywerige en pligsgetroue polisiebeampte”, die besonderhede van die beweerde aanranding deur elke stap van die proses gedokumenteer het – van die voorvalleboek se inskrywing op die misdaadtoneel tot die opstel van notas van haar interaksie met aanklaers en ondersoekers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Dis al wat hulle ken want hulle kan nie dinge uitpraat nie. Sal jou eerder neuk, of jou stil sharrup!

domheks ·

Skande dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid eers by NVG moet kla voor daar iets gebeur! Is die klomp verhewe bo die wet? Maar die bos maniere kom maar altyd te voorskyn.

Di ·

SIES, skaam my dat daar sulke “hoëprofielpersone” in ons Regering is, ongelukkig is die meeste van hulle so! NVG spul is ook regte ANC KADERS, USELESS verby

Swerwer ·

Genade, 2 jaar later en sy sit nog in haar pos? Ai die ou vetjies(geldjies/possies) wat so beskikbaar is en oral uitgedeel word vir die Regering se boeties en sussies word een vir een kiering gebraai!

Rocco ·

Dankie Afriforum dat julle die inwoners vsn Suid Afrika bystaan, en reg laat geskied

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.