‘Gautengse skole g’n veilige hawe’

(Argieffoto: Unsplash)

Die veiligheid van leerders en onderwysers in Gautengse skole is onder beleg met agt leerders en ʼn skoolhoof wat die afgelope vyf jaar binne die skoolterrein vermoor is.

Daar is in dieselfde tydperk altesaam 40 steek- en 10 skietvoorvalle en 16 gewelddadige misdade waar leerders en onderwysers betrokke was in die provinsie aangemeld.

Daar was die afgelope vyf jaar 94 voorvalle van geweldsmisdaad in Gautengse skole.

Hierdie inligting is bekendgemaak deur die Gautengse LUR vir onderwys, Matome Chiloane, in ʼn geskrewe antwoord aan die DA wat in die Gautengse provinsiale wetgewer (GPL) ter tafel gelê is.

Volgens Chiloane se antwoord het 26 voorvalle weens bendebedrywighede plaasgevind. Altesaam 45 voorvalle het weens konflik tussen leerders plaasgevind, een tussen onderwysers en ses tussen leerders (as aanhitsers) en onderwysers. Daar is ook vier aanvalle tussen onderwysers (as aanhitsers) en leerders aangemeld.

Volgens Khume Ramulifho, die DA se woordvoerder vir onderwys, is dié statistieke skokkend en ʼn duidelike aanduiding dat die lewens van onskuldige mense in gevaar is.

“Daar is nog nie veel gedoen om die veiligheid by skole op te skerp nie. Ons skole is onveilig en daar is ʼn dringende behoefte om skole in die provinsie se veiligheidstrategieë te hersien,” sê Ramulifho.

Boonop is daar tot op hede slegs een skuldigbevinding rakende hierdie voorvalle deur die departement bekendgemaak. Sommige sake is gesluit weens ʼn gebrek aan bewyse, terwyl ander steeds aan die gang is.

“Die skuldigbevindingskoers is laag en kommerwekkend aangesien dit wys dat die regstelsel ons onderwysers en leerders in die steek laat. Daar is ʼn dringende behoefte aan deeglike ondersoeke oor hierdie sake om te verseker dat hulle op die hofrol geplaas word.”

Die DA stel voor dat Chiloane die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid en sekuriteit, Faith Mazibuko, betrek om te verseker dat skoolveiligheid vooropgestel en hierdie voorvalle ondersoek word om geregtigheid vir die slagoffers en hul gesinne te verseker.

“Die DA eis dat die departement die Gautengse skole se veiligheidstrategieë hersien en verseker dat alle belanghebbendes betrokke is by die instelling van nuwe maatreëls om geweld in ons skole hok te slaan.

“Onderwys is ʼn maatskaplike kwessie, en gemeenskappe moet betrek word om te verseker dat ons skole veilige plekke vir leerders en onderwysers is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Die feite is nie volledig met gevolg die leser maak nou ‘n gevolgtrekking dat dit in alle skole so gaan maar eintlik gaan dit net so in sekere skole .

E ·

Die probleem wat ek hier sien is dat die seksmisdade nie eers genoem word nie. Ek dink ons sal skrik as ons daai syfer sien.

Roek ·

Sommige ours en oud skoolhoofde wag die onderwyser in by die hek en ämbush “”oor sy oskuldige bloedjie wat alles op horings neem !
Leer jou kinders basiese maniere soos asb en dankie , dit is nie die onderwyser se plig om dit te doen nie, hulle het ook teikens om te bereik met die salabus,

Wonder ·

daar is baie meer probleme in skole as die “handjie vol” probleme wat hull hier noem, ek verstaan nie hoe werk dit dat “studente” by hoërskole begin met onderwys nie, die 1st probleem is dat die kinders saam die studente skool gegaan het die kinders dink hull is nog hull vriende ens hoe gaan daar op so manier dissipline wat reeds amper nie meer daar is nie in die skole bly? Ek weet van n geval waar kinders drank by die skool gehad het, die onderwyser is gese om ondersoek in te stel en op die ou einde van die dag het daai onderwyser gese daar is niks alkhol gevind nie na die kinders gevra het die onderwyser moet niks se nie. Ek sien geen toekoms vir kinders meer in die skole nie dit raak elke jaar al hoe erger.

Eugene ·

By Al die plekke in suid-afrika is niemand veilig nie, ni net by skole nie.

Hendrik ·

Gee statisteke of die probleem in openbare skole, staatskole of privaatskole is en tree dan op en gee oplossings vir die probleem. Die veralgemeende verslae jaag my teen die mure op. By watter skole is die probleem?

Heinrich ·

Viva ‘human rights’; dis wat jy kry as jy dissipline uit die skole uit verwyder en niks in sy plek sit behalwe liberale denke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.