Gautrein-bedryfsure verleng onder vlak 3

(Foto: Gautrein/Facebook)

Die Gautrein het sy bedryfsure verleng ingevolge die regulasies van vlak 3 wat vandag in werking getree het.

Die Gautrein sal van Maandag af daagliks tussen 05:30 en 20:30 in bedryf wees. Die eerste treine sal vanaf 05:30 van die eindstasies af vertrek en die laaste treine sal om 20:30 vanaf dié stasies vertrek . Die eindstasies op die noord-suid-lyn is die Hatfield- en Park-stasies, terwyl die Sandton- en Rhodesfield-stasies die eindstasies op die oos-wes-lyn is.

Die Gautrein sal op weeksdae in 15-minuut-intervalle bedryf word tydens die spitsperiode en in 30-minuut-intervalle buite die spitsperiode. Die spitsperiode is van 06:00 tot 09:00 en 14:30 tot 18:00.

Oor naweke en op openbare vakansiedae sal die trein in 30-minuut-intervalle bedryf word. Die trein na die lughawe is steeds nie beskikbaar nie.

Alle treinreisigers sal vir ʼn beperkte tydperk, en tot verdere kennisgewing, verniet kan parkeer vir die eerste 24 uur, waarna standaardparkeertariewe sal geld.

Alle busroetes sal ook regdeur die dag beskikbaar wees, maar geen busdiens sal oor naweke of op openbare vakansiedae beskikbaar wees nie.

Streng gesondheid- en veiligheidsmaatreëls is ook ingestel. Die gebruik van gesigsmaskers is verpligtend en alle passasiers en personeel moet te alle tye ’n gesigsmasker dra. Passasiers word aangemoedig om sosialedistansiëringsmaatreëls toe te pas op stasies en aan boord van treine en busse.

Treine en busse word gereeld deur die loop van die dag skoongemaak en ontsmet. Spesiale skoonmaakpersoneel is by alle stasies ontplooi om raakpunte te ontsmet. Personeel wat met kliënte in aanraking is, se koors word gereeld deur die dag getoets.

Handontsmettingsmiddels is by alle stasies en in busse beskikbaar. Daar sal ook ewekansige sifting van passasiers op stasies gedoen word in samewerking met veldwerkers van die departement van gesondheid.

Die Gautrein wil ook termiese sifting by stasie-ingange begin doen om passasiers met hoë temperature te identifiseer en hul dan te verwys vir sifting en toetsing. Die tweede maatreël wat die Gautrein ook wil instel, is ontsmettingstonnels by alle ingange na die stasies.

Die Gautrein se bestuur het vroeër verlede maand aangekondig dat die treindiens weens die Covid-19-afsonderingsregulasies en die huidige ekonomiese situasie in Suid-Afrika, sy tariewe vir eers nie gaan verhoog nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.