Gautrein-dienste tussen Pretoria se middestad en Hatfield het na normaal teruggekeer. Die diens tussen Pretoria en Hatfield is vir langer as ‘n week ontwrig, nadat ʼn vragmotor verlede naweek by Muckleneuk op die spoor beland het.
Kesagee Nayager, woordvoerder van die Gautrein, het gesê die kragtoevoer na die tweede spoorlyn is herstel. “ʼn Pendeldiens is oor die naweek tussen die twee spoorlyne gebruik, maar die diens is van vanoggend af weer operasioneel.”
Nayager het egter gewaarsku dat die diens die komende naweek weer nie heeltemal operasioneel gaan wees nie, aangesien tegnici herstelwerk moet afhandel. “Ons sal egter sorg dat ʼn pendeldiens die komende naweek tussen dié twee stasies (Pretoria en Hatfield) beskikbaar is.”
Nayager het pendelaars bedank vir hul geduld terwyl herstelwerk aan die gang is.