‘Geen geld’ vir belastingverligting op sekerheidsuitgawes

Enoch Godongwana, minister van finansies. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Enoch Godongwana, minister van finansies, sê daar is eenvoudig nie geld om belastingverligting te bied vir die uitgawes wat Suid-Afrikaners noodgedwonge moet aangaan om hulself en hul eiendom te beveilig nie.

Hy sê indien daar genoeg geld was, sou hy as minister self voordeel uit dié belastingverligting geput het aangesien hy sekerheidswagte het wat hom noodgedwonge vergesel.

“Indien ek my sin gehad het, het ek dit gegee. Ek het egter bloot nie die inkomstebron om dit te doen nie.

“Ek hou dit nie terug omdat ek is lief daarvoor nie. Die fiskale besparing laat my eenvoudig nie toe om dit te doen nie. Indien ek dit gee, beteken dit ek neem R90 miljard uit die stelsel. Ek moet dan ʼn ander inkomstebron vind.”

Godongwana het Dinsdag geantwoord op ʼn vraag van die VF Plus oor moontlike belastingverligting op sekerheidsuitgawes. Die vraag is tydens ʼn gesamentlike vergadering van die staande en gekose komitees oor finansies en bewilligings aan die minister gestel.

“Waar sal daardie inkomste vandaan kom indien ons dit vir elke landsburger doen?” wou die minister by LP Fanie du Toit in die Nasionale Raad van Provinsies weet.

(Argieffoto: pixabay)

Volgens die minister moet beskikbare geldbronne eerder gebruik word om bykomende polisielede in diens te neem.

Du Toit wys egter daarop dat dié antwoord beskou moet word teen die agtergrond dat die private sekerheidsbedryf die polisiediens oorskadu wat mannekrag aanbetref.

“Daar is met die begroting belastingverligting gegee vir die installering van sonpanele. Aangesien misdaad ʼn ewe groot probleem is wat die land teister, sal dit net regverdig wees om in hierdie opsig ook ʼn toegewing te maak.”

50% korting vir Eksom

Op ʼn vraag van Du Toit of Eskom kwytgesteld kan word van brandstofheffings, het Chris Alexon van die Nasionale Tesourie namens die minister geantwoord dat Eskom ʼn gedeeltelike korting van 50% op die algemene brandstofheffing kry op die diesel wat aangekoop word om die land se ligte aan te hou.

Die VF Plus glo egter die algemene heffing behoort soos met dié van die Padongelukkefonds (POF) heeltemal geskrap te word.

Du Toit sê die heffing maak nie sin nie aangesien die staat Eskom in elk geval telkens moet red van agterstallige skuld. “Dit sal Eskom ook help om die las van sy lopende uitgawes te verlig.

“Hierdie stand van sake is nie aanvaarbaar nie. Dit kom daarop neer dat die regering die wolwe wat die kudde verslind, beskerm terwyl die wagters saam aan die etenstafel sit,” meen Du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Amelia ·

Hy worry mos nie oor burgers nie hy word mos alreeds beskrm deur lyfwagte ens

Republikein in die Wes Kaap ·

Gedurende ‘n nasionale opstand sal die polisie nie die minister en sy pelle nie kan beskerm nie

Prikkie ·

Slaap lekker snags minister, terwyl ons ander kop optel vir elke geluid wat ons hoor

Eugene ·

Ag tog dink die man ons is swape. Hy sou geen voordeel kon trek want al sy wagte en elektriese heinings en alarms word deur ons betaal. En die wonderlike geld wat hy gee vir sonpanele is omtrent 10% van die minimum koste om ‘n basiese stelsel by ‘n huis op te rig, so dit beteken eintlik niks

Pinoccio ·

Ontbind die useless oorgewig magte en sien daar is dan oor as genoeg om hieraan te bestee!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.