Geen geregtigheid: Dowe slagoffer wag maande vir tolk

Betogers buite die Bishop Lavis-landdroshof. (Foto: Mary-Anne Gontsana)

Deur Mary-Anne Gontsana, GroundUp

September is Dowe Bewusmakingsmaand, ook bekend as die Nasionale Maand van Dowes.

Tog sal die saak teen vier Wes-Kaapse mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n dowe vrou van Bonteheuwel in Desember verlede jaar verkrag het, nie hierdie maand verder aangehoor word nie weens die onbeskikbaarheid van ’n gebaretaaltolk.

Die 45-jarige slagoffer sukkel boonop al heel jaar lank om ’n vaardige gebaretaaltolk te kry sodat haar saak aangehoor kan word.

Die saak is vandeesmaand vir die eerste keer by die Bishop Lavis-hof aangehoor, maar moes sedertdien verskeie kere uitgestel word weens die afwesigheid van ’n geakkrediteerde tolk.

Die saak sal nou na verwagting op 12 Oktober eindelik na die Parow-streekhof oorgeplaas word. ’n Tolk kon vir die volgende hofsitting in Oktober bekom word nadat Action Society en ondersteuners van die gehoorgestremde gemeenskap buite die vorige hofsittings betoog het.

“Die familie het ons gekontak om met die saak te help aangesien hulle uitdagings ervaar het, veral wat ’n gebaretaaltolk betref. Action Society het sedert Augustus vanjaar met hand en tand saam met die familie baklei om tot hierdie punt te kom,” sê Kaylynn Palm, woordVvoerder van Action Society.

Palm sê ’n tolk is ná ’n gespook aan boord gebring met die hulp van organisasies en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). “Action Society is bly dat ’n gebaretaaltolk beskikbaar gestel is, maar die feit bly staan dat dit veels te lank geneem het vir die hof om tot hierdie punt te kom ná verskeie uitstelle.”

Antoinette Meyer, ’n familiewoordvoerder, sê die familie is aanvanklik aangesê dat die vermeende slagoffer Parow toe moet gaan om met ’n gebaretaaltolk en die aanklaer te vergader. “Ek en sy het twee keer teruggegaan en daar was geen tolk nie. Sy het ’n derde en vierde keer saam met haar ma gegaan en hulle het nie eers geweet sy het ’n afspraak met die aanklaer nie, en daar was geen tolk nie.

Betogers buite die Bishop Lavis-landdroshof. (Foto: Mary-Anne Gontsana)

“Haar enigste vrees is dat hierdie ouens daarmee gaan wegkom. Dit was vir ons so frustrerend om oor en oor na die howe te kom net vir die saak om uitgestel te word omdat daar geen tolk is nie.”

Volgens die Dowe Federasie van Suid-Afrika (DeafSA) is die probleem nie ’n tekort aan gebaretaaltolke nie, maar dat howe verplig word om ’n versoek om ʼn tolk minstens twee weke voor die verhoordatum in te dien.

“Howe moet DeafSA twee weke voor die tyd kontak. Die howe het ’n goeie verhouding met DeafSA Wes-Kaap. Wanneer hulle ons vooraf kontak, bespreek ons die tolke, maar hulle kontak ons nie betyds nie” sê Francois Deysel, nasionale koördineerder by DeafSA.

Deysel sê bekwame gebaretaaltolke is baie besig aangesien hulle dienste gedurende die week by regering- en korporatiewe geleenthede of werkswinkels benodig word. “Om vooraf ’n tolk te bespreek, help DeafSA om ook te kyk na die spesifieke behoeftes van die kliënt, die erns en sensitiwiteit van die saak.”

Deysel kan daarvan getuig dat ernstige sake waarby dowes betrokke is, gereeld uit die hof gegooi word omdat die behoorlike prosedures nie gevolg word nie. Hy sê daar behoort van die opening van ’n dossier af ’n tolk op rekord te wees.

Volgens Deysel het DeafSA ’n reëling met die polisie gehad, wat behels het dat DeafSA tolke verskaf het wanneer nodig. “Toe ek 22 jaar gelede begin het, was daar net tien gebaretaaltolke in die hele land, en nou het ons tans 180. Ons lei voortdurend tolke op, veral omdat gebaretaal nou een van die amptelike SA tale is.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Ronel Davids, ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker wat gebaretaal magtig is, sê die betrokke polisiestasie waar die vermeende slagoffer die saak die verkragting aangemeld het, het nie ’n gebaretaaltolk gehad nie.

’n Vriendin moes gevolglik die inligting namens haar oorgedra. “Dus, wat op die verklaring geskryf is en hoe sy dit onderteken, kan twee verskillende dinge wees. So, die inligting sal dalk nie in die hof staan nie,” verduidelik Davids.

Sy waarsku dan ook dat nie almal wat gebaretaal ken as geakkrediteerde tolke kan werk nie.

“Ek het met ’n hofbeampte gepraat wat met sake werk waarby kinders betrokke is. Ek het gevra of die kind doof is. Die hofbeampte het gesê ‘O, ons google net vir ’n tolk.’ Jy kan nie sommer enige tolk vat en sê dis ’n gebaretaaltolk nie. Die tolk moet gekwalifiseerd wees in die veld waarin hulle aangevra word.”

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, sê dit is nie algemeen om gebaretaaltolke in die hof te hê nie, aangesien daar nie ’n groot aantal sake is wat so ’n diens vereis nie.

“Waar die diens benodig word, kan ’n spesiale reëling getref word. Dit is nie ’n kwessie van tekorte nie, maar eerder ʼn bevoegdheid om die diens te bekom.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.