George-burgemeester sy DA-lidmaatskap kwyt

Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap. (Foto: Facebook)

Die DA het die burgemeester van George Donderdag ingelig dat sy DA-lidmaatskap opgeskort is en hy dus nie langer as die burgemeester van dié dorp kan dien nie.

“Die DA se federale regskommissie het aan Melvin Naik geskryf en hom ingelig dat hy nie meer lid van die DA is nie en dus nie meer as raadslid in George kan dien nie,” het die party Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Druk vir Naik om te bedank neem al sedert Januarie toe en die DA het hom Maandag skriftelik versoek om binne die volgende 48 uur te bedank. Hy bly egter nog hardnekkig in sy pos aan.

Dit volg ná ʼn forensiese verslag wat in Januarie uitgereik is en bevindings van korrupsie, wanbestuur en ernstige wanpraktyke by die George-munisipaliteit ingedien het. Die DA se koukus in George het boonop op 27 Januarie ʼn mosie van wantroue teen Naik aanvaar.

“Ons is oortuig dit is in die beste belang van die munisipaliteit en die inwoners van George dat Naik onmiddellik sy pos as burgemeester ontruim,” sê Geordin Hill-Lewis, die DA se kieshoof in George. “Ons sal steeds hard werk om die inwoners van George te wys dat ons verbind is tot ʼn deursigtige en verantwoordbare regering.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.