George se burgemeester ‘beweeg nou na volgende regeringsfeer’

Leon van Wyk, uittredende burgemeester van George. (Foto: Verskaf)

Deur Eugene Gunning

Leon van Wyk neem Vrydag afskeid van sy pos as burgemeester van George. Vrydagmiddag word hy ʼn lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer as lid van die DA.

Jaco Londt, voorsitter van die DA in die Wes Kaap, het die aankondiging, ʼn verrassing vir talle mense, Maandag gedoen. By dié geleentheid was Van Wyk saam met Londt asook Venolea Fortuin, voorsitter van die DA se Oos-streek in die Wes-Kaap.

Na verneem word, is daar al geruime tyd spanning in die DA-koukus. Van Wyk is ook in ʼn verkiesbare posisie vir die DA in die provinsie in die algemene verkiesing.

Van Wyk het besluit om die nuwe pos te aanvaar nadat die party se provinsiale uitvoerende komitee kom versoek het om dié pos te oorweeg.

Hy het benadruk daar was geen druk op hom om te bedank nie.

Volgens Fortuin sal ʼn bepaalde proses nou in die DA gevolg word om ʼn kandidaat vir burgemeester aan te wys. Enige DA-lid wat minstens 30 dae lid is van die party sal kan aansoek doen. Daar word gehoop dat die proses teen die einde van die maand afgehandel sal wees.

Sy het Van Wyk geloof vir die goeie werk wat hy gedoen het. Sy meen hy beweeg nou na ʼn volgende regeringsfeer waar sy kundigheid benodig word.

Fortuin het ook bevestig dat Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, aangewend word om die party in George in die verkiesing by te staan.

Dié Wes-Kaapse dorp is in rou gedompel nadat ʼn gebou in aanbou Maandag ineengestort het. Die dodetal staan op ses en pogings om oorlewendes onder die puin te vind duur voort.

Die aankondiging oor Van Wyk se loopbaan word op geen manier met dié voorval verbind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Geniet die drie weke. Na 29 Mei 2024 moet die DA weer ander planne maak. Dalk Kaapstad of Prince Albert.

Jaco ·

Vir ‘n veelrassige party wat nogal VIR regstellende aksie gestem het, is die DA se topbestuur en parlementslede en burgemeesters darem erg wit. Hulle ras pla my nie, maar gemeet aan die DA se verbintenis tot regstellende aksie, wonder ek net: is daar dan geen swart, kleurling of indiër DA lede wat ook in die hoër posisies kan sit nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

NelNel, die DA gaan bars om 40% van die stemme in die WK te kry. Dan moet hordes huidige LPRe êrens elders aangewend word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.