Geregtelike doodsondersoek wéér uitgestel

V.l.n.r. Wico Swanepoel, Andrew Leask, Phyllis Vorster, Slang Maangwale, Gerrie Nel, Anthony Sehas tydens ’n vorige hofverskyning.(Foto: Verskaf)

Die geregtelike doodsondersoek na die dood van Solomon (Solly) Nengwane is Maandag in die Brits-landdroshof uitgestel tot 18 Oktober 2022. Die ondersoek is op die rol geplaas vir drie dae. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verteenwoordig Nengwane se familie. Die persone van belang is polisiebeamptes onder wie se toesig die slagoffer in 2006 in aanhouding oorlede is.

“Die uitstel volg omdat ’n nuwe landdros, landdros Rosenberg, die geregtelike doodsondersoek gaan waarneem en omdat Isaac Thlape, een van die persone van belang, op 13 Februarie 2022 in ’n motorongeluk oorlede is, sê Wico Swanepoel, prokureur van die privaatvervolgingseenheid. “Thlape was ’n luitenant-kolonel by die polisiestasie in Brits.

Nengwane is een van vyf persone wat destyds daarvan beskuldig is dat hulle miljoene Amerikaanse dollar van ’n Benoni-polisiestasie gesteel het. Dié geld is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het onder verdagte omstandighede verdwyn.”

Die ondersoek was in September 2021 ook op die hofrol, maar is in daardie stadium tot 28 Februarie 2022 uitgestel toe die voorsittende beampte in die doodsondersoek kort tevore gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig Nengwane is op 6 Junie 2006 oorlede nadat hy deur die persone van belang in hegtenis geneem is. Die amptelike weergawe is dat die polisie vir Nengwane na die Dr. George Mukhari-hospitaal geneem het en dat hy reeds oorlede was toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal gelos.

Nengwane se familie het die privaatvervolgingseenheid om hulp genader omdat niemand ná 17 jaar nog vir sy dood aanspreeklik gehou word nie.

“Geregtigheid moet geskied vir Nengwane se familie,” het Swanepoel vroeër gesê. “Dit is waarom ons betrokkenheid by hierdie ondersoek so belangrik is – ons kan nie toelaat dat sommige persone anders behandel word deur die regstelsel bloot omdat hulle polisiebeamptes is of was nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

T ·

Ja,en so bedel Afriforum en Solidariteit geld elke dag om n lid te word van hulle spandeer meer tyd en geld aan sake van nie-lede.Gerrie het nog nie een saak van belang vir lede gewen nie.Ek jare gelede my lidmaatskap gekanseleer by hulle,want op die einde van die dag,soek hulle net media dekking om.sodoende meer lede te werf.
Soos die engelse sê….”Put your money,where your mouth is”!
Spandeer eerder meer tyd aan Brendan Horner se saak,en kry n deurbraak daar eerder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.