Gesamentlike landbou-inkubasieprojek skop af

Nantes Kelder, Leon Lourens, kgosi Gaboilelwe Moroka, Gerhard Lourens en kgosana Mokoto Moroka

AfriForum, die familieboernetwerk Saai en die kantoor van kgosi Gaboilelwe Moroka, het ’n gesamentlike inheemseveldbok-inkubasieprojek in die Barolong Boo Seleka-koninkryk by Thaba’Nchu, oos van Bloemfontein in die Vrystaat, afgeskop. Die projek begin met ’n aanvangskudde van 21 nguni-inheemseveldbokke en bokboerdery-opleiding deur Gerhard Lourens van LGL Inheemseveldbokstoet aan plaaslike kleinboere en kgosi Moroka en haar span.

Die doel van dié projek is om plaaslike kleinboere met kennis en vaardighede toe te rus, om bestaans- en kleinskaalse boerdery te ontwikkel tot winsgewende ondernemings, en ook om ’n bokkudde daar te stel wat mettertyd tot ’n volhoubare bokboerdery sal ontwikkel. Dié boerdery sal bokke lewer wat verdere ontwikkelingsprojekte op voetsoolvlak moontlik maak.

“Die waarheid is dat landbou die grondslag van menslike oorlewing is,” sê kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka. “Dit is ook deur die herlewing van landbou dat ons blywende sukses kan behaal. Dít is die sleutel tot voedselsekerheid en volhoubaarheid, en om wanvoeding, armoede en werkloosheid die hoof te bied.”

Sy sê die veldbokprojek dien as ’n ontwikkelingspunt vir die rigting waarin bokboerdery moet beweeg in al die landelike gemeenskappe van Suid-Afrika. “Ons spreek graag ons waardering teenoor AfriForum en Saai uit vir hulle voortdurende samewerking en vennootskap met die Barolong Boo Seleka in ’n poging om dié gemeenskap te bemagtig om ’n selfstandige bestaan te verseker. Ons toekoms hang van landbou af.”

Inheemseveldbokke (Foto verskaf)

Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai, sê dit is vir sy organisasie ’n voorreg om ’n verskil te maak deur bestaans- en kleinskaalse familieboere toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om hul boerderye te kommersialiseer en te moderniseer. “Die ondersteuning en mentorskaprol wat ons vervul, maak dit moontlik vir hierdie familieboere om te ontwikkel tot kommersiële boere wat ’n bydrae lewer tot welvaartskepping, voedselsekerheid, ekonomiese groei en werkskepping.”

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê ’n netwerk van selfstandige kultuurgemeenskappe word op die grondslag van wedersydse erkenning en respek gevestig waarbinne gemeenskappe saamwerk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die kinders van alle gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te verseker. “’n Nuwe samelewingsorde gebou op die grondslag van gemeenskapsfederalisme is besig om op voetsoolvlak vorm aan te neem – dit gee ons hoop vir die toekoms aangesien dit aan interafhanklike gemeenskappe hier die geleentheid bied om gesamentlik oplossings te vind vir die uitdagings wat deur ons in die gesig gestaar word.”

Gesamentlike landbou-ontwikkeling- en erfenisprojekte word sedert 2022 ná die sluiting van ’n wedersydse erkennings-en-samewerkingsverdrag tussen AfriForum en die Barolong Boo Seleka met sukses aangepak. Hierdie goeie verhoudinge en samewerking is ’n herlewing van die goeie betrekkinge wat in die 1830’s tussen die Afrikaner- en Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskappe gevestig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leeubekkie ·

Goeie werk. Beveilig net asseblief daai bokke teen diewery en moenie te veel adverteer waar dit plaasvind nie.

SjN ·

Sal weer oor n jaar terugvoering en vordering wil sien, sterkte met die boerdery.

Piet parys ·

So wat doen daai biljoenêr Cyril Ramaposa…..met al sy Pala pala geld. Hy kan mos maar opheffingswerk doen onder sy broers en susters en nie verwag dat blank ondersteunde organisasies sy werk moet doen nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.